Die Amerikaanse akteur Kevin Spacey is formeel aangekla van vier aanklagte van seksuele aanranding teen drie mans, het die Britse polisie Maandag gesê. Spacey sal na verwagting Donderdagoggend in ‘n Londense hof verskyn.
Die kriminele aanklagte is die eerste keer aan die einde van Mei bekend gemaak toe die Crown Prosecution Service sy magtiging gegee het.
Benewens die aanklagte van seksuele aanranding is die 62-jarige akteur ook daarvan aangekla dat “hy veroorsaak het dat ‘n persoon in indringende seksuele aktiwiteit sonder toestemming betrokke geraak het,” het Londen se metropolisie gesê.
Die aanklagte dateer terug na voorvalle wat plaasgevind het tussen 2003 en 2013.
Die ondersoek deur die metropolisie het begin na aanleiding van bewerings wat tydens die #MeToo-beweging bekend geraak het.
Die akteur het die bewerings ontken, maar ‘n beskuldiging in 2017 deur mede-akteur Anthony Rapp dat Spacey hom by ‘n partytjie in die 1980’s aangerand het toe Rapp ‘n tiener was, het Spacey se loopbaan tot stilstand gebring.
Die Old Vic-teater in Londen, waar Spacey tussen 2004 en 2015 artistieke direkteur was, het in 2017 gesê hy het bewerings van onvanpaste gedrag ontvang van 20 mans wat tussen 1995 en 2013 met die akteur by die teater in aanraking gekom het. Britse polisie het hom die eerste keer in 2019 ondervra.
Die tweemalige Oscar-wenner het voorheen gesê dat hy vrywillig in die hof op die aanklagte sal verskyn.
’n Amerikaanse hof het Spacey beveel om $31 miljoen (ongeveer R49 941 6200) te betaal aan die vervaardigers van die program House of Cards, waarin hy gespeel het toe die bewerings bekend gemaak is.
Die maatskappy wat die reeks vervaardig het, het gesê Spacey het sy “teisteringsbeleid” oortree, wat hulle gedwing het om hom af te dank en die laaste seisoen van die program, waarvoor hulle finansiële verliese gely het, kort te sny.
Bronne: MSN, Yahoo, NBC
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Akteur Kevin Spacey aangekla van seksuele aanranding



