Volgens die nuutste misdaadstatistiek is 306 kinders in die eerste drie maande, dit wil sê vanaf Januarie 2022 tot Maart 2022, in Suid-Afrika vermoor. Dit is ‘n toename van 37,2% vanaf dieselfde tyd verlede jaar.
Die statistiek is Vrydag 3 Junie 2022 deur Bheki Cele, minister van polisie, in Pretoria bekendgemaak.
Moord
In die eerste drie maande van vanjaar is ‘n toename van 22,2% moorde aangeteken.
1 107 meer mense is tussen Januarie en Maart in Suid-Afrika vermoor vergeleke met dieselfde tydperk in 2021.
Uit die 6 083 mense wat in die land vermoor is, was 898 van hulle vroue en 306 kinders onder die ouderdom van 17 jaar.
Seksuele misdrywe
Alle seksuele misdrywe het ‘n toename van 13,7% aangeteken, met seksuele kontakmisdrywe wat die enigste afname in hierdie misdaadkategorie aangeteken het.
Die eerste drie maande van vanjaar is 10 818 mense in Suid-Afrika verkrag.
Byna die helfte van die sake, ‘n verbysterende 4 653 verkragtings, het by die huis van die verkragtingslagoffer of die huis van die verkragter plaasgevind.
Ontvoering
3 306 ontvoeringsake is by die polisie geopen.
Hierdie misdaadtendens het ‘n skerp toename getoon met ‘n toename van 1 700 sake wat by die polisie aangemeld is vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.
Die meeste van die ontvoeringsake was kaping-, roof- en verkragtingsverwant.
Die top drie polisiekantore met die hoogste aangemelde ontvoeringsake was Kemptonpark, Heidelberg-stasies in die Gauteng-provinsie en Delmas-polisiestasie in Mpumalanga.
Die Gauteng-provinsie is verantwoordelik vir die grootste deel van die ontvoeringsake, met meer as ‘n duisend meer gevalle in die verslagtydperk.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



