Phillip O’Neill (70) het op Vrydag 3 Junie voor landdros Faith Kekana in die Secunda-landdroshof verskyn in verband met die beweerde moord op sy vrou, Hester O’Neill (49).
Daar word beweer dat ‘n stryery tussen die egpaar by hul huis in Brandspruitstraat op Secunda, omstreeks 22:35 op 1 Junie ontstaan het.
Volgens polisieverslae het Hester glo vir Phillip gesê sy wil hom verlaat.
Die polisieverslag meld dat Hester in die agterkant van haar nek geskiet is.
Sy is op die toneel dood verklaar.
’n Kort 9 mm Astra-vuurwapen wat in Phillip se naam gelisensieer is en lewendige ammunisie is op die toneel gekonfiskeer.
Phillip moet ook op 24 Junie in die Secunda-landdroshof verskyn op ander aanklagte wat nie met dié misdaad verband hou nie.
Familie en vriende van die oorledene was by die hofverrigtinge om hulle ondersteuning te toon.
Phillip se familie was ook by die hof.
Hester laat haar dogters Chane (24) en Rhene de la Rouviere (21), haar broers en susters Catherine van der Merwe, Jacques Smit en Christelle Volschenk, en haar ouers Lettie en Chris Smit agter.
Hester se begrafnis vind op Vrydag 10 Junie plaas.
Besonderhede van waar dit gehou sal word, was met die ter perse gaan nog nie beskikbaar nie.
Phillip sal op dié dag ook weer in die hof verskyn vir ‘n formele borgtogaansoek.
Hy bly in polisie-aanhouding.




