Die familie van die Israeliese skrywer wie se artikel die 1986 Tom Cruise-fliek Top Gun geïnspireer het, dagvaar die filmateljee Paramount Pictures vir kopieregskending oor die opvolg daarvan.
Hulle beweer die ateljee het nie die regte gehad op Ehud Yonay se 1983-verhaal Top Guns toe dit verlede maand die opvolgverhaal Top Gun: Maverick vrygestel het nie.
Die regsgeding – wat Maandag by die Los Angeles federale hof ingedien is deur Shosh en Yuval Yonay, Ehud se weduwee en seun – beweer dat Paramount versuim het om die regte op Ehud se tydskrifartikel te herwin nadat dit ingevolge die Amerikaanse outeursregwet beëindig is.
Hulle soek ongespesifiseerde skadevergoeding van die filmateljee, insluitend winste van Top Gun: Maverick.
Volgens die regsgeding sou Paramount se Top Gun-franchise nie bestaan het sonder Ehud se “literêre pogings en evokatiewe prosa en narratief” nie.
Die regsgeding lui die Yonays het Paramount in 2018 ingelig dat sy regte op Ehud se artikel twee jaar later beëindig sou word.
Dit het bygevoeg dat die ateljee die kopiereg vir die stuk in Januarie 2020 verloor het.
“Soveel soos wat Paramount anders wil voorgee, het hulle ‘n opvolg van Top Gun gemaak nadat hulle hul kopiereg verloor het,” het prokureur Marc Toberoff, wat die Yonays verteenwoordig, aan die BBC gesê.
Paramount het in ‘n verklaring gesê: “Hierdie eise is sonder meriete, en ons sal onsself kragtig verdedig.”
Bronne: BBC, Yahoo
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Man skei vrou omdat hy drie keer ‘n dag moes noedels eet



