Marno se ma smeek: ‘Here, tel my kind op uit die storm’

Deel hierdie storie / Share this story

Helga Muller, klein Marno wat na ‘n fratsongeluk by die kleuterskool nou in die hospitaal opgeneem is, se ma, smeek Suid-Afrikaners om te help om die intensiewesorgeenheid-kostes te help dek.

Helga sê sy weet nie hoe lank Marno nog in die intensiewesorgeenheid sal wees nie, maar dat die kostes daarvan verskriklik hoog is.

Sy en Marno se pa, Rudi, het vandag fondsinsamelings gehou om te help om geld in te samel.

“Ons het gisteraand ‘n baie slegte aand gehad,” het sy vanoggend gesê. “Hy het ‘n terugslag gehad na sy regterlong platgeval het. Die dokters het gesukkel om dinge weer onder beheer te kry.”

In die stadium lê Marno op sy magie en is hy aan volle lewensondersteunende masjiene gekoppel.

“Ons het boodskappe gekry van mense wat ons nie eers ken nie, wat sê hierdie kind gaan wakker word en hy gaan opstaan. Ek bid dat die Here sy long lig en dat Hy asem inblaas en dat hy my kind uit hierdie storm uit optel.”

Indien jy ‘n bydrae wil lewer, kontak die Hemelse Pêrels NPC by 083 541 4501.