Bianca Botha van Centurion in Gauteng sê die dag wat die petrolprys so gestyg het, het sy by haar praktyk agtergekom hoeveel van haar kliënte se gemoed af is. “Ek het besef hoeveel mense vandag bang is dat hulle nie kan kos koop of petrol ingooi nie. Toe ek verby die vulstasie ry en die kilometers motors sien wat in die ry staan om petrol in te gooi die dag voor die petrolprys sou styg, het ek net besef hoeveel mense sukkel.”
Sy het hierdie boodskap op Facebook gedeel en die boodskap is intussen meer as 1 900 keer gelike en meer as 3 500 keer gedeel.
Ek wil vir jou vanaand jammer sê
Ek is jammer jy moes verby die vulstasie ry en jy kon nie stop nie. Want jy het doodeenvoudig nie eers geld vir brood nie. Ek is jammer dat jy môre wanneer jou salaris wys met R100 die nuwe petrolprys moet aanvat. Ek is jammer dat die vulstasie wat jou oog op pad huis toe gevang het jou minderwaardig laat voel het. Dat jy na dit voel jou lewe staan doodstil en dat jy niks bereik nie. Dat jare se werk niks beteken nie, want na jare se werk het jy vanaand niks waarvan jy jare gedroom het nie.
Ek is jammer jy het vanaand gehuil, want jy moet kies tussen babadoeke en ‘n boks met ses houers melk. Ek is jammer dat jy by die Pick n Pay gekom het en die olie waarin jy jou laaste aartappels wil bak, is dubbel die prys vir ‘n klein botteltjie.
Ek is jammer dat jy nie kan onthou hoe proe vleis in jou pasta nie, en is jammer dat jy soos ek vandag angstigheid ervaar het oor “waar gaan dit eindig”.
Ek en jy kan nie meer doen nie. Ons kan net soveel doen. Dit is nie jou skuld dat die land vanaand 12 uur nog ‘n bietjie dieper in die drein afspoel nie.
Ek is jammer dat jy as mamma vandag en môre dieselfde sweetpakbaaidjie moet aantrek vir jou kleuter, want dit is al wat hy het. Dat jy agter die wasbak staan met ’n nat lappie en die merkies afvee, want ‘n tumble drier is ‘n luxury en die krag op jou meter loop na niks.
Ek is jammer dat jy ten minste twee keer vandag gedink het as jy vanaand jou lewe eindig, slaap jy rustig môre. Die wêreld gaan niks wees sonder jou nie.
Ek het niks woorde vir jou nie, behalwe om te sê: “Ek is jammer”. Ek, Bianca Botha, is jammer dat ons ons lewe om werk en dit voel op ‘n dag soos vandag niks. Want die tonnel raak net langer en die geroep na God net harder.
My jammer dra gewig, want ek is opreg jammer die wêreld se druk steel jou vreugde elke liewe dag.



