Het jy al daaraan gedink om ‘n aartappelburger te probeer maak? Hier is die perfekte resep van Watertand Resepte vir Oud en Jonk.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min.
Verkoel: 30 min.
Gaarmaak: 40 min.
Bestanddele:
4 groot aartappels
30 ml (2 e) olyfolie
sout en vars gemaalde
peper
Tamatieblatjang
2 uie, grof gekap
2 knoffelhuisies, gekap
45 ml (3 e) olie
50 g tamatiepasta
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
60 ml (¼ k) bruinsuiker
Hoenderskywe
500 g hoenderborsfilette
1 rooi ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
10 g pietersielie
skil van 1 suurlemoen
5 ml (1 t) suurlemoensap
2 ml (½ t) sout
5 ml (1 t) vars gemaalde peper
1 eier
30 ml (2 e) olie
Vir voorsit
50 g slaaiblare
4 velle cheddarkaas
2 tamaties, in skywe gesny
4 agurkies, in lang repe gesny. Voorverhit die oond tot 180 °C.
Metode:
Sny die aartappels in skywe van 2 cm dik en pak op ’n bakplaat. Smeer albei kante met die olie en geur met die sout en peper. Oondbraai 35-40 min. of tot goudbruin en gaar.
Tamatieblatjang: Braai die uie en knoffel stadig in verhitte olie tot gekarameliseer.
Voeg die res van die bestanddele by en laat stadig prut tot effens dikker. Geur met die sout en peper.
Hoenderskywe: Pols al die bestanddele saam fyn in ’n voedselverwerker en verkoel minstens 30 min. Verhit die olie in ’n kleefvrye pan, skep hopies van die mengsel in die pan en druk ’n bietjie platter. Braai tot goudbruin aan albei kante.
Pak op ’n bakplaat en oondbraai nog 5-8 min. in die oond tot gaar.
Vir voorsit: Pak ’n paar slaaiblare op die helfte van die aartappelskywe, gevolg deur ’n hoenderskyf, ’n vel kaas, ’n skeppie blatjang, tamatieskywe en ’n paar skyfies agurkie. Pak nog ’n aartappelskyf bo-op. Steek met ’n stokkie vas en herhaal met die res van die bestanddele.
Bron: Huisgenoot Digitaal
Plasing: Nadine van der Merwe / WATERTAND RESEPTE VIR OUD EN JONK
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



