21-jarige nou dalk verlam na motorongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

Die 21-jarige Bianca Ras was op die aand van 20 Mei in ‘n ernstige motorongeluk toe sy saam met vriende uitgegaan het. Nou, waar sy in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg opgeneem is, weet sy nie of sy weer sal opstaan nie.

‘n Vriend sou Bianca die aand na die kuier by die huis gaan aflaai en dit was op pad huis toe wat die ongeluk plaasgevind het.

Marinda Herbst, ‘n woordvoerder vir die familie wat nou ook besig is om ‘n fondsinsameling vir Bianca se mediese onkostes te reël, sê aan FiND iT Bianca het nog baie pyn en kan nog nie presies onthou wat tydens die ongeluk gebeur het nie.

“Sy kon nog nie in detail beskryf wat daardie aand gebeur het nie. Bianca was bewusteloos toe die ambulans haar kom oplaai het en haar na die naaste hospitaal geneem het.”

Bianca het bloeding op haar brein gehad, haar rug en skouer is gebreek, haar linkerlong het platgeval en sy het ook sewe van haar ribbes gebreek. Haar milt is ook geskeur.

Sy het tans agt penne in haar rug en het net ‘n effense gevoel in haar regterbeen, maar geen beweging nie.

Herbst sê Bianca se ma, Charmaine, wat ‘n haarkapster en ‘n enkelmamma is, moes nou haar werk opgee om by haar dogter te wees en haar by te staan. “Bianca het ‘n beurs gekry om sielkunde te gaan studeer, maar ons is nie nou seker of sy steeds daarmee sal aangaan nie. Ons het nou al die nodige detail aan die beurs gestuur om te hoor of ons dit kan uitstel na ‘n latere stadium.”

Herbst sê ook dat die gesin nou geld gaan benodig om onder andere ‘n groter woonstel te kry vir wanneer Bianca moontlik met ‘n rolstoel terugkeer huis toe.

“Daarom het ons besluit om te begin met ‘n sop-en-sjerrie aand wat op 15 Junie sal plaasvind om te help om geld in te samel.”

Indien jy ‘n bydrae wil maak of meer wil weet oor die kueiraand, skakel Marinda by 064 755 0394 of vir Monique by 066 210 7917.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.