Seun steeds kritiek na baadjie se toutjies hom hang

Deel hierdie storie / Share this story

Die 5-jarige Marno Muller wat in die hospitaal opgeneem is na hy per ongeluk aan sy nek by sy skool aan sy kappiebaadjie (hoodie) se toutjies gehang het, is steeds onder 100% sedasie.

Niemand weet hoe lank klein Marno so by die skool gehang het voor hy gekry is nie. Sy gesiggie was reeds blou.

Hy het glo op die glyplank by die skool gegly en sy baadjie se toutjies het verstrengel geraak en hom gewurg.

Marno is tans in die Garden City- pediatriese ICU opgeneem.

Dokters is bekommerd oor sy nierfunksie. ‘n Neuroloog sal hom ondersoek. Swelling op sy brein en breinskade sal ook gemonitor word.

“In dié stadium kan hulle nie sê wanneer Marno van die sedasie afgehaal sal word nie. Dokter sê ook daar is nie ‘n waarborg dat hy sal wakkerword en hoe hy sal reageer nie. Ons is op ons knieë in gebed, ons glo en vertrou op die Here. Asseblief mense, bid vir hom,” skryf die Hemelse Pêrels NPC.

Chris Marais, een van die direkteure van Hemelse Pêrels NPC, het aan FiND iT bevestig Marno se bloeddruk was maar op en af deur die nag en dat sy niere steeds nie 100% werk nie.

Hy sê hy sal vanaand op Facebook regstreeks ‘n video oor Marno se vordering plaas.