Die 19 kinders en twee onderwysers wat in die skietery by ‘n laerskool in Texas dood is, was almal in een klaskamer.
Die aanval het Dinsdag plaasgevind by die Robb Elementary School in Uvalde, sowat 129 km wes van San Antonio, in die VSA.
Veertien massaskietvoorvalle by Amerikaanse skole was sedert 1999 vir altesaam 169 sterfgevalle verantwoordelik.
Die kinders wat aan hul beserings gesterf het in gister se skietvoorval, was tussen sewe en 10 jaar oud.
Twaalf persone is tydens die traumatiese voorval beseer.
Die skieter, 18-jarige Salvador Ramos, het homself in ‘n klaskamer geïsoleer voordat hy op die leerders en onderwysers, wat die klaskamer binnegegaan het, losgebrand het.

Ramos het glo eers met sy ouma baklei en haar vemoor voor hy na die skool gevlug het. Volgens berigte het hy versuim om aan sy hoërskool in Texas te gradueer.
Goewerneur Greg Abbott sê dat die skieter sowat 15 minute voor die skietery in ‘n plasing op Facebook gesê het hy gaan op ‘n laerskool losbrand..
Dit is die skietvoorval met die grootste dodetal by ‘n Amerikaanse laerskool sedert 20 kinders en ses volwassenes ‘n dekade gelede by die Sandy Hook-skool in ‘n soortgelyke skietery gedood is.



