Leiland-James Corkill-saak: Laura Castle tronk toe gestuur vir babamoord

Deel hierdie storie / Share this story

’n Vrou wat ’n babaseuntjie vermoor het wat sy wou aanneem, is vir minstens 18 jaar tronk toe gestuur.

Laura Castle het die 13 maande oue Leiland-James Corkill in Januarie 2021 by haar huis in Barrow, Cumbria, in haar sorg gehad vandat hy agt maande oud was.

Sy het manslag erken, maar is in die Preston Crown-hof skuldig bevind aan moord en kindermishandeling.

Haar man, Scott Castle, is vrygespreek daarvan dat hy die seun se dood veroorsaak of toegelaat het.

Castle (38) is lewenslange tronkstraf opgelê met ‘n minimum termyn van 18 jaar.

Heeltemal in swart geklee, het sy hard gehuil deur die hele verhoor, veral toe verklarings gelees is van Leiland-James se biologiese ma, Laura Corkill, wat haar seun se moordenaar ‘n “monster” genoem het.

Regter Jeremy Baker het gesê Castle het ‘n “selfsugtige begeerte” gehad om Leiland-James te behou, al het sy gesukkel om ‘n band met die baba te smee en dit was ‘n “tragedie” dat die Castles nie die aanneming beëindig het nie.

Leiland-James het in Augustus 2020 by die Castles ingetrek toe hy agt maande oud was, nadat hy by geboorte deur die Cumbria County Council versorg is.

Die hof het gehoor die egpaar het gesukkel om ‘n band met hom te vorm en Castle het vir haar man boodskappe gestuur terwyl hy by die werk was en Leiland-James gekritiseer, hom vulgêre name en ‘n “kreunende tjanksak” genoem en beskryf hoe sy hom herhaaldelik geslaan het.

Omstreeks 08:15 op 6 Januarie 2021 het Castle 999 gebel om te sê Leiland-James is bewusteloos en haal ongemaklik asem nadat hy van die bank geval het.

Hy is die volgende dag in die Alder Hey-kinderhospitaal in Liverpool dood, waar dokters hoogs agterdogtig was oor Castle se storie.

Op die openingsdag van haar verhoor het sy manslag erken, maar gesê sy het nie bedoel om hom dood te maak nie.

Sy het aan die hof gesê sy het “haar verstand verloor” terwyl die seun gehuil het en sy het hom geskud om hom te probeer stilmaak en sy kop per ongeluk teen die arm van die bank geslaan.

Bure het gesê hulle het ‘n slag gehoor, maar geen baba wat huil nie, met aanklaers wat beweer Castle het “haar humeur verloor” toe Leiland-James Weetabix uitgespoeg het.

Patoloë het gesê “ernstige” geweld sou nodig gewees het om Leiland-James se noodlottige breinbeserings te veroorsaak en glo sy kop is teen ‘n harde oppervlak geslaan.

Hulle het gesê ‘n val van die bank sou nie verantwoordelik kon wees vir die baba se uitgebreide interne bloeding nie en het sy beserings vergelyk met dié wat in ‘n hoëspoedmotorongeluk opgedoen is.

Die regter het gesê uitwendige beserings aan die baba se gesig en oor was “in ooreenstemming met ‘n klap, knyp en stamp”, terwyl wonde aan sy lip en mond veroorsaak is toe Castle ‘n bottel melk uit woede “ingestamp” het en nie, soos sy aan die jurielede gesê het, in ‘n “poging om hom te troos” nie.

Regter Baker het haar ook tot 21 maande gevonnis vir die kindermishandelingklag om samelopend uitgedien te word en sy sal vir 17 jaar nie vir parool in aanmerking kom nie.

Cumbria County Council het gesê ‘n onafhanklike hersiening van die saak sal na verwagting in Julie afgehandel wees.

Bronne: BBC, Yahoo

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Chris Brown wens glo eks-meisie Rihanna geluk met die geboorte van haar kind