Vermoorde tweejarige nooit geregistreer nie

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens ‘n spesialisondersoeker wat die dood van die tweejarige Germiston-kleuter Chevonne Avril Rusch ondersoek, sê haar geboorte ​​is nie wettig geregistreer nie.

Die polisie is verlede week na ’n kliniek in Primrose, Ekurhuleni, ontbied waar hulle ingelig is dat Chevonne deur haar toekomstige stiefpa na die kliniek gebring is en kneusplekke aan haar lyf gehad het.

Sy is met haar aankoms dood verklaar.

Cornelius Stephanus van Niekerk is intussen gearresteer en is tans in aanhouding.

Van Niekerk, die verloofde van die kind se ma, het vroeër vandeesweek in die Germiston-landdroshof verskyn waar die saak tot 25 Mei uitgestel is vir verdere ondersoek en ‘n moontlike borgtogaansoek.

Mike Bolhuis van Specialized Security Services (SSS) het gesê sy ondersoekspan het by Chevonne se biologiese pa vasgestel dat haar geboorte nooit geregistreer is nie.

Chevonne was ten tye van die voorval in haar ma se sorg.

“Die geboorte van Chevonne Avril Rusch is in die proses om geregistreer te word om ‘n doodsertifikaat te bekom. Haar begrafnis kan eers plaasvind nadat hierdie dokumentasie ontvang is,” het Bolhuis aan FiND iT gesê.

“Ons versoek enige persoon met enige inligting rakende [beweerde] verwaarlosing, mishandeling en die moord op Chevonne of enige ander kinders [in Klopperpark] om die hoofondersoeker in hierdie saak, Maatje Swanepoel, by 066-007-1818 te kontak om hierdie sake behoorlik deur die betrokke owerhede te laat hanteer,” het Bolhuis gesê.