‘n Dertienjarige tienerseun wat Woensdag op pad skool toe ontvoer is, is deur die polisie gered en nou weer veilig by die huis.
Volgens die polisie het drie verdagtes op die voertuig waarin die seun op pad skool toe was, toegeslaan. Die verdagtes het die bestuurder van die motor forseer om in die motor se kattebak te klim voor hulle met die motor en die seun weggery het.
Die bestuurder is later in Durban gevind en ‘n losprys van R1 miljoen is geëis. Die ontvoerde tiener se ma het ‘n bedrag van R90 000 aan die ontvoerders betaal, maar het nie haar seun teruggekry nie.
Die polisie het ‘n taakspan saamgestel na ‘n saak van ontvoering by die polisie geopen is.
Twee verdagtes is in die Lindelani-area in hegtenis geneem en hulle inhegtenisname het gelei tot die seun se redding. Die polisie het ook die R90 000 kontant gekonfiskeer.
Die twee verdagtes sal Maandag 23 Mei in die Ntuzuma-landdroshof verskyn.



