Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, het opposisie-LP’s daarvan beskuldig dat hulle ‘n gebrek aan patriotisme en empatie vir die mense van Suid-Afrika toon.
Die toerismesektor, eens ‘n baken van hoop vir ekonomiese groei en werkskepping, is swaar getref deur Covid-19-inperkings en reisbeperkings.
Dit was nie ‘n wonderlike oomblik vir Sisulu nie, wat met konneksieprobleme gesukkel het toe sy die regering se pogings uiteengesit het om die verpletterde toerismesektor te laat herleef.
Opposisie-LP’s het die regering, wat byna ‘n halfmiljoen poste laat doodbloei het sedert die eerste Covid-19-inperking in Maart 2020, daarvan beskuldig dat hulle nie genoeg doen om die bedryf te help nie.
“Hierdie regering verstaan steeds nie dat dit die private sektor is wat eintlik besig is om toerisme te bou en besoekers na Suid-Afrika te bring nie. Dit gebeur, terwyl die regering aan die kant peuter,” het Manny de Freitas, LP van die Demokratiese Alliansie, gesê.
Sisulu was ontevrede oor die kritiek.
“Ons praat van ‘n baie brose en belangrike sektor van ons ekonomie. Ek het na sommige van die insette van verskeie lede geluister en wat ek skokkend vind, is ‘n gebrek aan patriotisme, ‘n gebrek aan empatie vir daardie mense wat van hulself gegee het om vir hulself en ander mense in hierdie spesifieke bedryf ‘n bestaan te kan voorsien,” het sy gesê.
Bronne: EWN, Sowetan LIVE
Volg FiND iT hier.



