Winkel moet klant vergoed wat op koekmeel gly

Deel hierdie storie / Share this story

Die Boxer Superstore-maatskappy is deur die hof beveel om skadevergoeding te betaal aan ‘n klant wat beseer is toe sy gegly en geval het as gevolg van koekmeel wat op die winkelvloer gemors was.

Caymore Pete het die winkelkettinggroep in die Oos-Kaapse hooggeregshof vir skadevergoeding gedagvaar en beweer die winkel was nalatig omdat dit nie die meel op die vloer betyds opgeruim het sodat nie nie ‘n gevaar vir kopers sou veroorsaak nie.

Pete het aan die hof gesê sy het in September 2020 vir haar ouma inkopies gedoen toe sy in die betrokke winkel gegly en geval het.

Boxer-winkels het enige verantwoordelikheid ontken en aan die hof gesê dat Pete eenvoudig nie gekyk het waar sy loop nie.

Pete het getuig sy het op die dag van die voorval haar normale inkopies gedoen en na die kassier gegaan om te betaal.

Die kassier het vir haar gesê omdat sy Weense worsies gekoop het, is sy geregtig op ‘n gratis pakkie worsbroodjies.

Pete het teruggegaan om die broodjies by die bakkery-afdeling te gaan haal. Om ‘n draai het sy gegly en geval.

Sy het die gemorste koekmeel eers na haar val opgemerk.

Twee werknemers van die winkel het haar in ‘n kamer bygestaan, waar sy mediese bystand gekry het.

Terwyl Pete erken het dat sy haastig was, aangesien sy nie die kassier wou laat wag nie, is sy oortuig sy sou nie geval het as dit nie vir die meel op die vloer was nie.

’n Skoonmaker by die supermark, wat gesê het dit is haar plig om die vloere skoon te hou, het ontken dat daar meel op die vloer was.

Sy het egter erken daar was pakkies meel op die rakke in die area waar Pete gegly het.

Dit het geblyk dat een van die pakkers in daardie stadium besig was om die pakkies meel in die winkelgang op te stapel.

Sy het toegegee dat meel uit die pakkies kon gemors het soos dit op die rakke gepak is.

Die advokaat vir die supermark het aangevoer dat daar geen ooglopende gevaar in die winkel was wat die koper in gevaar gestel het nie.

Hy het gesê dit kan nie van die winkel verwag word om om elke hoek en draai te inspekteer om te sien of daar ‘n storting was nie.

Die hof het gesê die werknemers van die winkel het ‘n wetlike plig om die vloer skoon en vry van gevare vir die koper te hou.

Die regter het gesê die blote feit dat die skoonmaker gesê het sy het nie die storting gesien nie, onthef nie Boxer Superstores van sy regsplig nie.

Die hof het tot die gevolgtrekking gekom dat die meelstorting waarskynlik plaasgevind het toe die sakke gepak is en die winkel se werknemers versuim het om die meel op te vee.

Die regter het gesê kopers in ‘n winkel fokus hul aandag op die goedere op die rakke en nie deur na die vloer te kyk om te verseker dat dit veilig is nie.

Dit was nie moeilik om die vloere skoon te hou nie. Aangesien die winkel baie besig was en omdat die meel onder die omstandighede op die vloer gelos is, het dit ‘n gevaar vir die koper ingehou.

Die bedrag van skadevergoeding wat aan Pete betaalbaar is, sal in ‘n later stadium bepaal word wanneer die aspek van haar beserings voor die hof is.

Bronne: VN Explorer, IOL

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Swaar reënval vir KwaZulu-Natal verwag