Motor sit vas in slaggat, ander kry skade

Meer as twee maande gelede al het mnr. Pedro Enslin, skoolhoof van Laerskool Newton in Kimberley, ‘n dringende skrywe gerig aan die departement van infrastruktuur oor ‘n slaggat in Conradstraat.

Die herstelwerk is vinnig voltooi, maar na ‘n waterlek Maandag gerapporteer is en dit nié reggemaak is nie, het die gat weer vinnig oopgegaan.

Vier motors het Woensdag bande of motordele beskadig en een het selfs heeltemal in die slaggat vasgesit.

Enslin sê die slaggat veroorsaak ‘n vreeslike ongemak vir enige bestuurders wat daar probeer verbyry.

“Daar is elke dag ‘n groot hoeveelheid motors wat in Conradstraat ry,” sê Enslin in die voorlegging. “Die ouers van ons gr. RR, gr. R, gr. 1 en gr. 2-ouers maak gebruik van die pad en daar is ongeveer 540 leerlinge in dié grade.”

“Ander ouers van ons skool moet ook van dié pad gebruik maak om by Halkettstraat uit te kom om hulle kinders by die skoolhekke af te laai. Die slaggate in die pad belemmer die verkeersvloei omdat ouers nou op die sypaadjies ry om die slaggate te vermy. Dit raak ‘n veiligheidsrisiko vir enigeen wat dié paaie en sypaadjies gebruik.”

“Ons as skoolgemeenskap doen ‘n dringende beroep op die Sol Plaatje-munisipaliteit om in te gryp en te help om die paaie te herstel.”

Enslin voeg by dat ouers van leerlinge in Hoërskool Adamantia, Hoërskool Noord-Kaap en HTS die paaie gebruik.

Enslin sê die munisipaliteit het Dinsdag na die motor in die slaggat vasgesit het, aan die waterlek kom werk, maar die slaggat bly steeds ‘n probleem.

Leave a Reply

Your email address will not be published.