Donasies dek vermoorde tweejarige se begrafnis

Deel hierdie storie / Share this story

Genoeg geld is oor die afgelope paar dae vir die tweejarige Chevonne Rusch, wat vermoedelik deur haar stiefpa Cornelius Stefan van Niekerk vermoor is, se begrafnis ingesamel.

“Neem asb. kennis dat die familie genoeg geld ingesamel het vir klein Chevonne se begrafnis!

Moet asb. nie meer enige donasies maak nie.

Ons wil net Baie Dankie sê vir almal se hulp tot dusver! Dit word opreg waardeer 🙏❤,” lui ‘n inskrywing op die Voice for Chevonne Rusch-blad op Facebook.

Van Niekerk het Maandag in die hof verskyn en is tans in aanhouding. Die voorval het oor die naweek plaasgevind.

Die polisie is Woensdag 11 Mei 2022 net na 13:00 na die Wannenburg-kliniek in Ekurhuleni ontbied waar ‘n kind wat deur haar ma se verloofde na die kliniek gebring en net daar gelaat is, dood verklaar is.

Chevonne was in ‘n kombers toegedraai en het verskeie kneusplekke gehad.

Die verloofde het glo gesê sy het siek geraak by die huis.

Haar mond was vol bloed en het sy ‘n kneusplek agter aan haar kop gehad, asook kneusplekke aan haar lyf.

Speurders is na die gesin se woning vir ondersoek, waarna Van Niekerk as die beweerde verdagte van die minderjarige kind se moord gearresteer is.