Die beloning wat uitgeloof is vir enige inligting oor die moord op die jong pa wat voor sy vrou en sy dogter doodgeskiet is, is nou van R50 000 na R90 000 verhoog.
Die 29-jarige Juandré Kidson is verlede Saterdag op die N4 by Brits voor sy vrou en sy eenjarige dogtertjie doodgeskiet na hy gestop het om ‘n band van sy motor te vervang. Sy motorband het gebars na hy oor klippe gery het. Die rowers het vermoedelik die klippe in die pad gepak.
Polisieminister Bheki Cele het nou reageer op die jong pa se familie wat antwoorde van die polisie eis in verband met die moordondersoek.
Drie mans het die gesin op die N4 oorrompel. Kidson het om sy lewe gesmeek net voor sy dood. Sy vrou, Johanette, is ook in die voorval beseer. – Rustenburg Herald, Netwerk24



