‘Be kind,’ sê munisipale woordvoerder Thoko Riet ná spotvideo

Deel hierdie storie / Share this story

Thoko Riet, ‘n opgeleide, sterk vrou wat haar kommunikasiekunde-graad by die Universiteit van die Wes-Kaap verwerf het, het in die afgelope week vir die eerste keer ooit ‘n televisieonderhoud gevoer oor die wateronderbreking in Kimberley.

Dié wateronderbreking, wat oor vier dae strek, het inwoners woedend en alle navrae word nou aan haar gerig.

Die onderhoud, wat deur die SABC opgeneem is, het “viral” gegaan omdat Riet gestotter het terwyl sy praat en vergeet het wat die onderhoudvoerder gevra het. Sy het ook gesê “biljoene lekplekke” word reggemaak.

Riet, wat instaan vir Sello Matsie, die munisipale woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit wat afgetree het, sê sy was baie op haar senuwees om vir die eerste keer ‘n “live” TV-onderhoud te doen.

“Die begin van die onderhoud het baie goed gegaan,” sê sy. “Ek het tyd gehad om die antwoorde voor die tyd voor te berei, ek het net in daardie stadium van die onderhoud ‘n ‘mental block’ ervaar.”

Die video het opslae gemaak in Suid-Afrika, met mense wat vreeslike negatiewe kommentaar oor hoe Riet die vrae beantwoord het, gelewer het. Daar is ook reeds “memes” van die onderhoud gemaak.

Behalwe vir die negatiewe kommentaar en mense wat met haar die spot dryf, is daar ook baie positiewe en ondersteunende kommentaar.

Anena Burger, joernalis vir Netwerk24, skryf dat sy self wanneer sy op video moet verslag lewer, haar woorde vergeet en ‘n 30 sekonde-video 20 keer moet oorneem.

“Knowing Thoko Riet, I know that she is quite eloquent and a great human being who will empower herself and make sure that her next statement is better than the last one,” skryf Jerry Kale.

“”Ek hoor hoe almal sê dat sy groot skoene het om te vul na Sello Matsie se aftrede. Maar ek dink haar eie skoene is goed genoeg,” skryf Palesa Legodi.

Riet sê ná die video so wyd versprei is, kry sy boodskappe van ondersteuning van nie net haar vriende, familie en kollegas nie, maar ook van mense wat sy glad nie ken nie.

“Ek het ‘n ongelooflike ondersteuningstelsel. Ek is een van die gelukkiges wat nou ondersteun word na die video.”

Sy sê dis baie teleurstellend hoe Suid-Afrikaners nou reageer.

“Daar is baie wat ek kan sê. Ek weet net dis baie hartseer en teleurstellend om soveel mense te sien wat daarmee spot.

“Niks in jou werkomgewing kan jou voorberei vir die eerste keer wat jy regstreeks op TV verskyn nie. Daar is ‘n eerste keer vir alles!”

Riet, wat eintlik Setswana en Afrikaans praat, moes dié onderhoud in Engels voer.

“Mense moenie klippe gooi nie. Ons almal het ons eie uitdagings in die lewe. En die belangrikste van alles: ‘be kind’. Sommige mense wat dalk onder die publiek se kommentaar deurloop, is nie so gelukkig soos ek om ‘n wonderlike ondersteuningstelsel te hê nie,” sê sy. “Depressie is ‘n realiteit.”

Sy sê sy bid vir diegene wat met haar spot en sê sy is vas oortuig dat iets goeds hiervan sal kom.

Riet is die tydelike woordvoerder vir Sol Plaatje Munisipaliteit nadat Sello Matsie afgetree het. Haar vorige pos was kommunikasiespesialis by die munisipaliteit.

Sy sê die herstelwerk op die verskillende gebiede waar die munisipaliteit herstelwerk moet doen, loop soos beplan en dat daar geen probleme ervaar is nie.