Man (57) in nood wag meer as 12 ure vir ambulans

(Foto: Infoisinfo)

(Foto: Infoisinfo)

Desiri May vertel van die 57-jarige Louw Swart wat Donderdag baie lank moes wag vir ‘n ambulans om hom te kom haal.

May sê sy het Swart ontmoet na hy vir ‘n lang tyd elke dag by haar kom kos haal het of gevra het vir geld. “Hy was gereeld hier by ons en ek het hom gehelp waar ek kon. Hy het later selfs vir my gevra of ek sy geld en sy pensioenkaart by my sal hou sodat hy dit nie verloor nie.”

May het geheg geraak aan Swart en sê dat sy later selfs vir hom ‘n versekeringspolis uitgeneem het. “Ek het hom altyd gevra waar hy bly, maar hy het nooit reguit geantwoord nie en altyd die vraag vermy.”

Toe sy ‘n paar dae gelede begin wonder wat van Swart geword het na hy vir ‘n rukkie nie sy geld of kaart by haar kom haal het nie, het iemand hom by haar winkel kom aflaai.

“Hulle het gesê Blackie, soos hy ook bekend is, kan nie meer loop nie en seil op sy boude om te kom waar hy wil wees. Ek het toe besluit om hom hospitaal toe te neem.”

Sy sê die ervaring wat hulle die eerste maal by die hospitaal gehad het, was ook nie watwonders nie. “Dit het vir my gevoel asof Blackie nie met die nodige respek hanteer word nie, juis omdat hy so vuil was.”

Sy sê sy het Blackie na haar huis geneem om hom te laat bad voor sy hom weer Donderdag by die hospitaal wou kry. “Ons het gisteroggend om 09:00 die ambulans gebel en toe hulle teen 22:00 gisteraand nog nie by ons was nie, het ons maar besluit om hom self hospitaal toe te neem.”

Sy sê ook omdat Blackie dié keer skoner was was die vorige keer, is hy beter by die hospitaal behandel.

“Ek is bekommerd oor Blackie, want ek het uitgevind dat hy eintlik in die veld bly. Hy het geen herberg nie en niemand om na hom om te sien nie. Dit pla my ook dat die ambulanse in die stad so lank vat om mense in nood te gaan help. Wat gaan word van Kimberley?”

Leave a Reply

Your email address will not be published.