Die 128-jarige Johanna Mazibuko van Klerksdorp het Woensdag haar verjaardag gevier. Die Matlosana-munisipaliteit wil haar as die oudste persoon ter wêreld laat registreer.
Dié munisipaliteit het Woensdag saam met die departement van maatskaplike ontwikkeling Mazibuko se verjaardag gevier.
Die burgemeester van Matlosana, James Tsolela, en die LUR van maatskaplike ontwikkeling, Boitumelo Moiloa, was by die vieringe.
Mazibuko is op 11 Mei 1894 in Matlosana gebore. Sy is die eersgeborene van 12 kinders. Net drie van haar sibbe leef nog.
Sy het op ‘n plaas in die Meldorah-distrik grootgeword en sê haar dieet in haar grootwordjare het meestal uit melk en spinasie bestaan.
Sy is die ma van sewe kinders.
Die uitvoerende burgemeester sê Matlosana is baie bevoorreg om iemand van Ouma Mazibuko se kaliber te hê.
“Ons moet die dag as belangrik ag omdat daar nêrens in die wêreld al ‘n 128ste verjaardag gevier is nie,” sê hy.
Die bejaardes van Jouberton het almal ook die verjaardagvieringe bygewoon.



