Bekende sakeman van Bloemfontein wreed vermoor

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Bekende sakeman van Bloemfontein se liggaam is Maandagaand om 21:45 by sy huis in Bloemfontein gevind na sy motor vroeër die oggend verlate in die Namibië- informele nedersetting gevind is.

Jaco Barnard (47) het vir 15 jaar sy eie bestuurskool in Bloemfontein gehad en daarna vir ‘n boer gewerk waar hy implemente gekoop en verkoop het.

Sy dogter, Sharne Pieterse, vertel aan FiND iT haar pa se motor was sedert 04:00 Maandagoggend in die informele nedersetting in die stad. Sy sê die polisie het, ná hulle sy motor gevind het, met sy registrasienommer gewerk en by haar pa se ou adres na hom gaan soek, maar hy was nie meer daar woonagtig nie.

“My pa is vier jaar terug geskei en omdat dit net hy in die huis was en die huis vir hom te groot geword het, het hy besluit om so ‘n maand of wat gelede ‘n kleiner plekkie te kry.”

Pieterse is onlangs getroud en haar sussie is in graad 11.

Barnard se buurvrou het toe vir die polisie Pieterse se niggie se nommer gegee, en sy het hulle na sy huis geneem. “Toe hulle die hek oopmaak, het hulle hom daar voor die huis sien lê.”

Brig. Sam Makhele, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek nou ‘n saak van moord en roof.

Pieterse sê sy en haar familie het nog nie meer inligting oor haar pa se dood nie, maar dat sy Donderdag met die polisie gaan praat om meer uit te vind.

Begrafnisreëlings is reeds in plek, en Pieterse sê persone wat die diens wil bywoon, kan haar by 066 171 2351 kontak.