Kabinet vergader: Ramaphosa bekommerd oor stygende Covid-19-gevalle

Kabinet vergader: Ramaphosa bekommerd oor stygende Covid-19-gevalle

Kabinet vergader: Ramaphosa bekommerd oor stygende Covid-19-gevalle foto: Bing

Die kabinet het gister aanlyn vergader om onder meer die KZN-vloede, R350-noodverligtingsfonds, Covid-19-pandemie, die moord op Hillary Gardee asook die ekonomie te bespreek, word deur AfriNuus berig.

Covid-19-pandemie:

Suid-Afrika het gister vir die eerste keer in vyf maande meer as 10 000 nuwe daaglikse Covid-19-infeksies aangemeld.

Die kabinet het met kommer kennis geneem van die onlangse styging in Covid-19-infeksies in sommige dele van die land en het alle mense aangemoedig om voorsorgmaatreëls te tref om hulself teen die dodelike virus te beskerm, veral gedurende die komende wintermaande.

“Die virus is steeds ‘n konstante bedreiging en inenting bly die doeltreffendste wapen om onsself te beskerm. Die kabinet is bly dat meer mense steeds inentings as hul eerste verdedigingslinie teen Covid-19 kies, nadat onlangse statistieke getoon het dat die mylpaal, van meer as 50% van volwassenes wat ingeënt is in vyf van die land se provinsies bereik is,” aldus inligting deur AfriNuus bekom.

Rampbestuur ná die KZN-vloede:

Die R1 miljard wat deur die regering aan KwaZulu-Natal beskikbaar gestel is, gaan gebruik word vir noodleniging en om herstelpogings te ondersteun, basiese dienste te herstel en humanitêre bystand te verskaf in die vorm van voedsel, water, skuiling, sanitasie en klere.

“Die proses om geaffekteerde gebiede te herbou het reeds begin, aangesien die mense van ons land verenig is in hul vasberadenheid om diegene wat hul huise en besittings verloor het, by te staan.”

Maatskaplike noodverligting (SRD)-toekennings:

Die kabinet het burgers wat die R350 SRD-toelae ontvang aangemoedig om weer aansoek te doen, ná die instelling van nuwe regulasies wat aansoeke en geskiktheid vir die toelae na die afskaffing van die nasionale ramptoestand beheer.

Aansoeke kan op die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) se webtuiste ingedien word: https://srd.sassa.gov.za/.

Die aansoekstelsel het op 23 April 2022 geopen en is ‘n volledig digitale proses om vinnige omkeertye moontlik te maak.

Veiligheid en sekuriteit:

Die kabinet het die sinnelose moord op Hillary Gardee veroordeel en het die vinnige reaksie deur wetstoepassingsbeamptes verwelkom, wat reeds drie verdagtes in verband met dié moord in hegtenis geneem het.

Die kabinet het verder die moord op ses mense in Khayelitsha, in Kaapstad, veroordeel.

“Hierdie sinnelose moorde is ‘n herinnering dat ons as ‘n samelewing meer moet doen om geweld en geslagsgebaseerde geweld wat vrouemoord insluit (GBVF) moet beëindig.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.