Covid-19 eis 1 miljoen Amerikaanse lewens tot dusver

Volgens amptelike statistieke het die Verenigde State van Amerika (VSA) nou amptelik meer as 1 miljoen Covid-19-verwante sterftes aangeteken.

Wat eens na ‘n ondenkbare mylpaal gelyk het, is nou oorgesteek ongeveer twee jaar nadat die eerste Covid-19 gevalle in die land aangemeld is.

Die 1 miljoen-kerf is ‘n skerp herinnering aan die verbysterende hartseer en verlies wat deur die pandemie veroorsaak is, selfs al neem die bedreiging wat die virus tans inhou in die gedagtes van baie mense af.

Dit verteenwoordig ongeveer een sterfgeval vir elke 327 Amerikaners, of meer as die hele bevolking van Seattle.

Teen die tyd dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Covid-19 op 11 Maart 2020 tot ‘n wêreldwye pandemie verklaar het, het die virus reeds 36 lewens in die VSA geëis.

In die daaropvolgende maande het die dodelike virus soos ‘n veldbrand versprei, en vrugbare grond gevind in digbevolkte stedelike gebiede soos New York en elke uithoek van die land.

Meer as 82 miljoen Amerikaners het tot op hede reeds die virussiekte opgedoen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.