‘n Pa se eerste Absa Wildeklawer

Wildeklawer is vir seker uniek en ‘n wonderlike ervaring vir almal wat die voorreg het om daarin te deel.

Ons ry al vroegoggend na die fees in Kimberley, want dis ver. Mamma wil gaan seker maak haar kuiken het genoeg van als en ek wil die ryery agter die rug kry. Dis ons eerste Wildeklawer en ‘n mens is mos nuuskierig om te sien waaroor die bohaai nou eintlik gaan.

Ons ry amper 10 ure. Vreemde plekname soos Daggaville, Leeuberg en Leen-jou-nefie-se-trekkerfontein vlieg op die hoofpaaie verby terwyl die mense op die stoepe van die U-Saves en OK Expresse stadiger in die dorpies verbyseil. Soos die visse by die akwarium kyk ons vir hulle agter glas, of loer hulle vir óns? Soos ons vorder, word die boude lam en my voet al swaarder op die pedaal. Later sukkel my speedcontrol om onder die 140km/uur-merkie te bly, maar tog ry ons uiteindelik die plek van die groot gat binne. Of sal ek dit die plek van die groot lug noem? Die bloute van die lug strek oneindig in alle rigtings bo jou, gaan staan gerus stil en kyk as jy weer daar kom. Dit is iets om te aanskou as jy ‘n Kapenaar is.

Die venue is ook iets besonders. Dit lyk asof die gasheerskool hierdie tipe ding vir ‘n lewe doen. Vergeet van die vlae, die harde musiek en die pom-pom meisies; die indrukwekkende ding is die ander goed wat werk. Kort rye vir kos, kort rye vir toilette, programme wat op tyd hardloop. Die biertent is só doeltreffend dat Mamma my een middag net betyds daar kom uitsleep… Dankie tog dis nie die 1970’s toe vrouens die kroeg verbied is nie!

O ja, en dan is daar natuurlik die sport en die sports wat daarmee saamgaan. Wat sport betref – as sportwetenskaplike (semi-afgetree, nie reklame nie) staan ek verstom oor die talent en kondisionering van die kinders. Dit is ‘n mengelmoes van groottes, ouderdomme, kleure en kulture en elkeen bring sy of haar uniekheid. Ek glo die meeste van ons sou sukkel om vandag ‘n C-span te haal as ons weer jonk moes wees; dit lyk asof elkeen aan ‘n akademie hoort!

Natuurlik is daar dan ook die sports. Die shenanigans van die beamptes, onderwysers, afrigters en natuurlik die groot tameletjie: die ouers! Dis erg, want jou hart se punt hol daar voor almal rond terwyl jou hande agter jou rug vasgemaak is. Reputasies, loopbane en bragging rights is op die spel vir die ander, vir die ouers is hul identiteit op die spel en hul eie konsep van regverdigheid en geregtigheid. Ek wens iemand wil ons eenkant neem en ‘n “5-dag Mega-ouer”- kursus aanbied. Hoe gemaak as jou kind “te veel” of “te min” speel, gedrop word, perform of faal? Hoe gemaak as jy dink die ref maak foute? Hierdie sports is nie vir sissies nie, soos om ‘n veldjie vol myne oor te steek waarvan die voetpaadjies lankal weggespoel het.

Vanjaar het ‘n handjievol skoliere hul hande opgesteek en die scouts het hulle sekerlik gesien. Die meeste het op TV verskyn en die res van die land het hulle ook gesien. Elke kind was egter deel van iets besonders, my hoop is dat húlle dit sal raaksien en waardeer. Skoolkinders van regoor ons land het gereis, gekuier en mens geword hierso en daar was verreweg meer gelag as gehuil.

Wildeklawer is vir seker uniek en ‘n wonderlike ervaring vir almal wat die voorreg het om daarin te deel. Jy sien ou bekendes, maak nuwe vriende, aanskou wêreldklas skoolsport en vir ‘n paar dae is jy weg van jou roetine. Ek reken die borge doen hierdie ding vir liefdadigheid, hoe maak hulle geld hierso?

Ek sal dit weer doen as die geleentheid hom voordoen. Ek sal weer die trokke op die pad, die potholes in die pad, die koedoe by die pad (paniek en vloekwoorde; “Gaan sy voor ons inspring?”), die bestuurders wat pad-af is en die padblokkades trotseer. Ek sal weer toelaat dat die winterson my neus ‘n padkaart brand en ‘n senuweewrak langs die baan wees terwyl dit voel of my hart ‘n deurpad deur my borsbeen probeer klop. Daar is ‘n rede waarom hulle dit nie die “Makke-klawer”- fees noem nie!

Ons salueer die afrigters, onderwysers, skoolhoofde en beamptes wat hul langnaweek opgeoffer het. Die weer het saamgespeel, ESKOM het ‘n kragbeurt gespeel en selfs die Matfields het kom gesig wys!

Die Diamantstad het nie teleurgestel nie, totsiens en mag ons paaie gou weer kruis.

[email protected]

Leave a Reply

Your email address will not be published.