Diamantveld Hoërskool (DHS) en die Hoërskool Noord-Kaap (HNK) pak mekaar hierdie Vrydag en Saterdag op die hokkie- en rugbyveld, asook die netbalbane.
Kan DHS dié jaar die bordjies teen HNK verhang?
Noord-kaap se rugbyspan draf Saterdag as oortuigende gunstelinge teen Diamantveld op die jaarlikse FNB Classic Clashes uit.
Die twee rugbyspanne van die Noord-Kaap provinsie speel Saterdag in Kimberley, wat nie net ’n liga bepalende wedstryd is nie, maar ook vir die voorreg om weg te stap met die kroon as top rugby skool in Kimberley.
Die twee spanne het verlede jaar in Augustus laas kragte gemeet.
HNK was op die dag oortuigende wenners met 28-17. Beide skole het so vroeg as verlede naweek nog op die Absa Wildeklawer sporttoernooi deelgeneem en beide skole sal wil bewys dat hulle wel as een van die top skole in die land gereken behoort te word.
Albei die spanne was verlede naweek nog betrokke by proewe vir die jaar se kies van Griekwaland-Wes se Cravenweek en akademiese spanne.
HNK se gevaarpunte lê beslis op die aanval en oudergewoonte sal die span se agterlyn baljaar met die hoeveelheid balbesit wat sy 8-tal beskikbaar stel. Die span in groen sal baie staatmaak op hulle losskakel wat heel moontlik reeds sy plek in die jaar se Cravenweek bevestig het. Elridge Jack, die vlugtige 10 met hope talent sal sy agterlyn aan die gang hou met onvoorspelbare dartel lopies en goeie aangee wat sy spanmaats in die vorm van Kiante Pienaar en Fuzludean Saim op die punte beslis in drieë sal omskep.
DHS, met kaptein JP Vorster aan die voorpunt, sal op sy 8-tal staatmaak om sy span op die voorvoet te hou.
Die pak het tot dusvêr meeste van sy opponente voorlangs oorheers met hulle fisieke spel en brute krag waarmee hulle eerste-fase besit in punte omskep.
JP Senekal, die lenige slot wat vroeër vanjaar nog op senter uitgedraf het, is beslis ’n gevaarpunt wat HNK fyn sal moet dophou. Dié jong speler het reeds sy plek in dié jaar se Cravenweekspan verseker en hy sal Saterdag wil bewys dat hy daar hoort. Sewe van DHS se pak behoort hierdie jaar Akademie of Cravenweek te verteenwoordig.
Agterlangs speel Diamantveld se skrumskakel, Marco Mathewson, van sy beste rugby in jare en die buksie sal oudergewoonte met sy skopskoen en sterk aangee sy teenstanders aan die raai hou.
Diamantveld se binnesenter, Ruan Watts, het na ’n afwesigheid van vier jaar op die rugbyveld – soos sy pa en oud Griekwaspeler van die 90’s, Gideon Watts – gewys hoe dik rugby in hulle are vloei. Watts behoort vir die Cravenweek span op 13 uit te draf.
Saterdag sal egter nie bepaal word deur hoeveel seuns in Craven of Akademie spanne opgeneem is nie, maar liewers wie met die beker as hierdie jaar se top span gekroon sal word.
Klik hier vir die program vir die naweek.



