‘n Padda in my McDonald’s-burger…

Deel hierdie storie / Share this story

Willem Bezuidenhoudt se dogter het net ‘n paar happe van haar McDonald’s-burger geneem toe sy ‘n padda se pootjies aan die ander kant van haar burger sien uitsteek …

Dit was “soos in ‘n fliek”, beskryf Bezuidenhoudt die voorval wat Vrydagagaand plaasgevind het na hy en sy gesin besluit het om ‘n wegneemete by McDonald’s in Secunda te bestel.

‘n Afleweringsdiens het die gesin se ete by hulle huis kom aflewer. Min wetend dat daar ‘n groot verrassing in een van die burgers wag, het drie van sy kinders aan hulle burgers weggeval.

“Ek het maar daar in die TV-kamer gesit en kyk hoe die Blou Bulle rugby speel, toe my 13-jarige dogter my roep. ‘Pappa, daar is ‘n padda in my burger!’

Bezuidenhout sê hy het aanvanklik gedink dit kan nie waar wees nie en het toe maar opgestaan om te gaan ondersoek instel.

En wragtig, op sy dogter se burger, steek ‘n padda se pootjies uit.

“Ek het die ding opgetel en van nader beskou. My eerste gedagte was om te kyk of die padda nog leef, want hy was nog so blinkerig.”

Toe Bezuidenhout nader ondersoek instel, het hy gesien die padda is dood.

“My vrou, Angeline, wou dadelik na die winkel toe ry en die situasie gaan uitklaar, maar ek wou eers die kliëntediens bel. Dié nommer het nie gewerk nie en my vrou is na die winkel toe.”

Bezuidenhout vertel Angeline was omtrent vir ‘n uur by McDonald’s terwyl die vloerbestuurder telefonies met die bestuurder van die winkel, wat met verlof was, gepraat het. “Hulle het ons toe in kennis gestel dat hulle nie vir ons ‘n vars burger kan gee nie en ook nie die geld vir die burger kan terugbetaal nie.”

Hy sê die restaurant het die afleweringsdiens die skuld gegee.

Bezuidenhout het intussen vandag met iemand by McDonald’s se hoofkantoor gesels wat gesê het die saak word ondersoek en dat hy op hoogte gehou sal word.

Na Bezuidenhout hom toe na Facebook gewend het om sy ervaring by dié McDonald’s op ‘n grappige wyse met ander te deel, word hy oorval van boodskappe van mense wat dieselfde ervarings by ander restaurante gehad het.

“Mense wat ek glad nie eers ken nie, kontak ons om te sê dankie dat ons dit gedeel het en dat hulle hiér en dáár dieselfde ervaar het.”

Hy sê hy en sy gesin kon op Moedersdag ook lekker om die tafel sit en gesels oor die “McFroggie”-insident.

“Ons het geen kwade gevoelens nie, ons is nie so aanmekaargesit nie. Die situasie laat mens net dink aan die hoeveelheid vertroue wat ons as klante het in restaurante wat ons kos voorberei. Ons neem dit so ligtelik op, jy het outomaties vertroue in die restaurant waar jy kos bestel. Dit laat mens nogal dink.”

Bezuidenhout lag en sê dit was ‘n raar gebeurtenis wat “worth sharing” was.

FiND iT het die betrokke restaurant genader vir kommentaar, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.