Drie verdagtes vas vir moord op Hillary Gardee

Deel hierdie storie / Share this story

Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, het die energie en toewyding van die polisiespanne geprys wat Hillary Gardee se moordsaak ondersoek.

Tot dusver is drie verdagtes in hegtenis geneem. Dit volg ná die inhegtenisneming van twee mans in Nelspruit oor die naweek.

“Dit is bemoedigend, aangesien ons aangedui het dat daar ander mense van belang is wat ons volg en onderhoude mee voer. Deur ons ondersoek, wat nog aan die gang is, kon ons uitvind dat ons ten volle glo die twee is die regte verdagtes,” het lt.genl. Manamela gesê.

‘n 39-jarige verdagte is reeds op Vrydag 6 Mei 2022 in Schoemansdal (Nkomazi) in hegtenis geneem.

Soos vroeër aangedui, kan nog verdagtes in hegtenis geneem word namate die intensiewe ondersoek voortgaan na die moord op die 28-jarige Hillary Gardee wat op Saterdag 7 Mei 2022 in Nelspruit ter ruste gelê is.

Lt.genl. Manamela, het aangedui dat die publiek, insluitend die media, versoek word om die span ondersoekers te ondersteun, aangesien hulle sekere leidrade volg sodat almal wat ‘n aandeel in die moord op Hillary Gardee gehad het, voor die hof gebring word.

Die verdagtes sal vandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn.