‘Was dit Will Smith?’ Chris Rock ná Dave Chappelle-aanval

Deel hierdie storie / Share this story

Die Amerikaanse komediant Chris Rock is klaarblyklik gereed om grappe te maak oor die berugte klap wat veteraan-akteur Will Smith hom op die verhoog gegee het by die Oscars sowat ‘n maand gelede.

Rock het ‘n grap gemaak nadat Dave Chappelle Dinsdagaand 3 Mei by sy regstreekse komediegeleentheid deur iemand in die skare aangeval is.

Nodeloos om te sê, baie mense het oor Rock se grappie gelag terwyl hulle hul gedagtes oor die Chappelle-voorval op sosiale media gedeel het.

Dinsdagaand is die omstrede Amerikaanse komediant Dave Chappelle aangeval deur ‘n 23-jarige man, Isaiah Lee, wat ‘n fopgeweer tydens sy Netflix is a Joke-fees rondgeswaai het.

Die voorval, wat by die Hollywood Bowl gebeur het, het ‘n verrassende grap uitgelok deur Chappelle se vriend Chris Rock (48), wat die geleentheid gebruik het om Will Smith en die berugte Oscars-klap wat op Rock se grap oor Jada se Pinkett- Smith se kaalkop gevolg het, by te haal.

“Was dit Will Smith?” het Rock op die verhoog gevra, tot groot vermaak van die gehoor.

Die grap het ook verras omdat Rock, by wie baie mense hulle ná die skokkende voorval geskaar het, nie formeel oor die klap gepraat het nie.

Intussen het Chappelle ongedeerd van die voorval weggestap terwyl sy aanvaller, wat ‘n regte mes in die replika-handwapen geplaas het, gearresteer is en van aanranding met ‘n dodelike wapen aangekla is.

Chappelle is wel in die moeilikheid omdat hy grappies gemaak het dat dit ‘n “transman” was wat hom aangeval het.

Bronne: NY Post, MSN

Volg FiND iT hier.

Lees ook: ‘Ek verwerk nog wat gebeur het,’ sê Chris Rock ná klap