Gesondheidsregulasies ‘onregmatig, irrasioneel en absurd’

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit sê die nuwe gesondheidsregulasies wat kort voor middernag Woensdagaand gepubliseer is, is onregmatig, irrasioneel en absurd.

Solidariteit sê hy het Donderdag begin met regstappe teen dié nuwe regulasies wat deur die minister van gesondheid in die Staatskoerant gepubliseer is.

“Die departement van gesondheid se gesloer met die regulasies het die absurde situasie geskep waar Suid-Afrikaners gisteraand om 23:00 nog steeds nie geweet het wat hulle die volgende oggend sou begroet nie.

“Dit is totaal onaanvaarbaar en dit bring ons terug by die inperking se familievergaderings en met onmiddellike effek,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Die feit dat die regering in die Staatskoerant erken dat hy nog tyd benodig om deur kommentaar van die publiek te werk, maar die regulasies in elk geval publiseer, dui daarop dat die openbarekommentaarproses as ʼn blote ongerieflikheid, beskou word deur ʼn regering wat eerder deur diktaat wil regeer. Openbare insette is nie bloot om die indruk van deelname te skep nie, maar dit moet inderdaad oorweeg word. Die regering se optrede het ʼn bespotting van die openbaredeelnameproses gemaak en wys die ware kleure van ʼn regering wat oor sy burgers wil heers eerder as om in solidariteit met hulle te regeer,” verduidelik dr. Dirk Hermann.

Solidariteit het vandag reeds ʼn regsbrief aan die minister van gesondheid gerig waarin die minister versoek word om te openbaar hoe by die besluit oor die regulasies gekom is. Boonop heers daar groot onsekerheid oor die wetsraamwerk waarbinne die “beperkte regulasies” funksioneer. 

Solidariteit se regspan oorweeg ook verdere regstappe wat die substansie van die regulasies kan uitdaag.

Die departement se oorhaastige, lomp en ondeursigtige optrede lyk veel eerder na die optrede van ʼn regering wat bang is hy verloor ʼn politieke hefboom oor sy bevolking as een wat besorg is oor hul gesondheid.

“Die regering het sy voete gesleep en het die dringendheid oor homself gebring. Nou wil hy ʼn oorhaastige produk deurdruk wat ons gesondheid moet reguleer. Ons is van mening dit is onverskillig en roekeloos,” het Hermann gesê.

“Die mees drakoniese regulasie onder die nuwe regulasies is dat die minister van gesondheid arbitrêr kan besluit om hierdie regulasies in te stel of terug te trek. Prakties gesproke beteken dit die minister van gesondheid kan die hele land in inperking dompel sonder enige voorafkennisgewing en met geen beperking op hierdie mag nie. Die enorme onsekerheid wat dit in verskeie sektore in die ekonomie skep, gaan ernstige gevolge inhou as die regulasies onveranderd bly. Daar is geen sprake daarvan om die kapasiteit van die land se gesondheidsorg deur die regulasies in stand te hou nie. Die enigste maatstaf is bloot om die verspreiding van Covid-19 aan bande te lê. Suid-Afrika het dus deur die regulasies bloot die tydelike pandemie verwissel vir ʼn ewigdurende inperking – dit sal ons nie duld nie,” sluit Hermann af.