Die 16-jarige Corna Slabbert wat in ’n kinderhuis op Volksrust gewoon het, het vermoedelik Woensdag saam met drie ander kinders van die kinderhuis weggeloop.
Corna se ma, Erenscha Slabbert, is nou dood van kommer oor waar haar dogter kan wees en of sy veilig is.
Corna woon in die Hildebrandt-kinderhuis op Volksrust en haar ma sê sy is glo Donderdag laas op die Standerton-pad gesien.
Corna is as vermis aangemeld.
“Die laaste boodskap wat ek van haar ontvang het net voor sy weggeloop het, was dat ek vir haar boetie en sussies moet sê sy is baie lief vir hulle en dat sy hulle baie mis.”
Erenscha sê daar het dadelik waarskuwingsklokkies in haar kop gelui en sy het onmiddellik begin rondbel. “Ek kon toe niemand in die hande kry nie, nie eers die selfoon waarvan die boodskap gekom het nie.”
Die drie ander kinders saam met wie Corna weggeloop het, is ook ongeveer haar ouderdom, maar hulle name is nie aan Erenscha bekend nie.
Indien jy enigiets weet oor Corna en die ander kinders se verdwyning, kontak haar ma by 073 486 5043.



