DA-leier John Steenhuisen in Oekraïne

Deel hierdie storie / Share this story

Die DA-leier, John Steenhuisen, het Maandag op sy Facebook-blad gesê hy is in Oekraïne.

“Ek het vandag in die stad Lviv in Wes-Oekraïne aangekom vanwaar ek ‘n ses dae lange toer deur verskeie dele van Oekraïne sal onderneem – meestal om die hoofstad, Kiëf – om self vas te stel wat die situasie is in ‘n land wat al vir drie maande onder beheer van die Russiese weermag is.

“In die loop van die volgende week sal ek vlugtelingkampe besoek en met verskeie burgemeesters, goewerneurs, sakeleiers, studente en gewone Oekraïense burgers vergader om eerstehands die gevolge van die Russiese inval en die voortdurende besetting van dele van Oekraïne te sien. In die era van fopnuus en propaganda is dit die enigste manier om werklik te weet wat aan die gebeur is.

“My voorganger en staatmaker van Suid-Afrikaanse liberalisme, Helen Suzman, het vroeër volgens hierdie leuse geleef en gewerk. Sy het dikwels hierdie raad aan ander gegee: “Gaan kyk self. Moenie vat wat die pers vir jou sê nie, moenie vat wat ander mense vir jou sê nie; gaan kyk self.” Dit is die doel van my besoek. Ons is dit aan die mense van Oekraïne verskuldig om die suiwer waarheid te vertel oor wat daar plaasvind, sodat die wêreld verenig kan staan ​​om hierdie onreg tot ‘n einde te bring.

“Dit is ook belangrik om te onthou dat ons in ‘n super-gekoppelde wêreld leef waar ontwrigtings in een deel groot rimpelings oral anders veroorsaak. Rusland se inval in Oekraïne is nie ‘n Europese probleem nie, dit is ‘n globale probleem. Die uitkringeffek van hierdie oorlog op ons eie brandstof-, mielie-, kookolie- en kunsmispryse sal diep in die sakke van arm Suid-Afrikaners delf wat reeds finansieel swaarkry.

“Ons durf nie maak asof dit ’n oorlog is wat niks met ons te doen het nie. En ons durf nie voorgee dat dit bewonderenswaardig is om in hierdie situasie “neutraal” te bly nie. Wanneer ons duidelike en onmiskenbare bewyse van onreg het, is ons dit aan die slagoffers verskuldig om kant te kies en uit te praat.”

Steenhuisen sal vir die volgende ses dae bywerkings van sy besoek aan die media verskaf soos sy reisplan dit toelaat.