“Jy het seker al die sêding gehoor: ‘A picture is worth a thousand words’. Wel, maal dit met ‘n duisend vir ‘n video!”
Zita Olinger, inhoudskepper in Bloemfontein, vertel ons van haarself, die pad wat sy gestap het om Zita Filmz aan die rol te kry en hoeveel sy haar werk geniet.
Zita, wat oorspronklik van Riebeeckstad is, is al 10 jaar woonagtig in Bloemfontein en is met xx Olinger getroud.
Zita Filmz, Zita se besigheid, bied digitale aanlyn-inhoud, regstreekse uitsendings, hoofsaaklik in video-formaat, maar ook in foto-formaat, aan.
“Ek het eintlik ‘graphic designing‘ studeer en my BA-graad daarin voltooi. My ‘journey‘ met video het begin saam met Annerie du Plessis. Ons het meestal trouvideo’s gedoen en ek het ‘n bietjie met die ‘graphics‘ gehelp. Van daar af het Annerie gevra of ons nie ‘n bietjie na video moet kyk nie. Sy het die kamera gehad en so het ons begin.”
“Daarna het ek die geleentheid gekry om by Rooistoel aan te sluit. Evert Kleynhans was en is steeds vir my ‘n groot mentor. Ek het soveel by hom geleer oor besigheid en oor video. Deur saam met hom te kon werk en so ervaring op te bou, is hoe ek baie geleer het.”
Zita het aan die einde van 2018 besluit om haar eie ding aan te pak. “Die motivering agter my besluit om op my eie te begin, was die woorde van ‘n spreker by een van die ‘events‘ wat ons afgeneem het. Hy het gesê: ‘As jy iets graag wil hê, gaan vir dit.’ Hy het sy storie vertel van die risiko’s wat hy in sy eie lewe moes neem om te kom waar hy vandag is.”
Zita vertel sy sien haarself as ‘n “freelancer” en het daarom nie mense wat onder haar werk nie, maar saam met haar. “My kollega en my regterhand op die oomblik is Carl Viloria.”
Zita lag en sê sy kan nie deel wat vir haar die “weirdste” ding is wat sy al moes afneem nie. “Die spesiaalste ding wat ek al moes afneem, is kos! Ons almal ‘love‘ kos,” lag sy. “Die sjef is ook ‘n kunstenaar. Die manier waarop die kos ‘geplate‘ word en om te sien hoe alles saamgesit word, dis vir my flippen cool!”
“Enigiets met emosie is altyd spesiaal. ‘n Bruidegom wat ‘n traan pik as die bruid inkom, is altyd vir my mooi. Dit laat my besef ons almal is maar net mens en liefde en vriendelikheid is waaroor alles gaan.”
“Een van die grootste uitdagings wat die tegniese aspek van alles betref, is as jy van jou ‘equipment’ vergeet en daar is iets wat jy moet doen met net dit wat jy het. Dit ‘spark‘ dan jou kreatiwiteit, omdat jy ‘n manier moet vind om dit te maak werk! Jy leer dan ook om nooit weer daai fout te maak nie.”
Zita sê sy het nie te veel vrye tyd nie, maar wanneer sy wel tyd vir haarself het, kyk sy graag Netflix, doen Crossfit of water haar huisplante.



