Die 25-jarige Larry Ely Murillo-Moncada het 10 jaar gelede spoorloos verdwyn. Sy oorskot is in 2019 agter ‘n vrieskas in ‘n winkel ontdek.
Kontrakteurs was besig om ou toebehore en vrieskaseenhede uitmekaar te haal en te verwyder vanuit ‘n plek wat eens ‘n kruidenierswinkel was toe die grusame ontdekking gemaak is.
Met die polisie se aankoms het hulle dadelik aan Murillo-Moncada gedink en sers. Brandon Danielson het twee en twee bymekaargesit.
Die oorledene se ouer se DNS is gebruik om sy identiteit te bevestig. Sy klere het ook ooreengestem met die beskrywing van sy drag ten tyde van sy verdwyning.
Murillo-Moncada se ouers het hul seun as vermis aangemeld nadat hy “ontsteld geraak en uit hul huis gehardloop het”.
Hulle het destyds aan die polisie gesê hy tree irrasioneel op, moontlik weens medikasie wat hy geneem het, het kapt. Weddum aan CNN gesê.
Daar word geglo dat Murillo-Moncada na die supermark gegaan het nadat hy by sy ouerhuis uitgestorm het. Hy het na bewering bo-op vrieskaste geklim wat gebruik word om goedere in te stoor in ‘n stoorarea wat dikwels gebruik word deur werknemers wat nie-amptelike pouses neem.
MailOnline berig dat hy vermoedelik in ‘n gaping van 18 duim (sowat 45 cm) tussen die vrieskaste en die agtermuur geval het waar hy vasgekeer was.
Voormalige werknemers by die supermark het glo aan die polisie gesê dit is nie ongewoon dat personeel bo-op die vrieskaste klim nie, omdat die spasie dikwels as stoor gebruik is.
Sers. Danielson het aan MailOnline gesê die geluid van die vrieskaste kon enige hulpkrete verdrink het. “Dit is so hard dat daar waarskynlik geen manier is dat iemand hom gehoor het nie,” het hy gesê.
Die polisie het nou die ondersoek na die saak gesluit.
Bronne: Daily Mail, MSN
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Mangaung-burgemeester Maandag in hof



