Jong man verdwyn na hy ‘bang en deurmekaar’ man wou help

Deel hierdie storie / Share this story

“Ons het al so baie vir hom gesê om dit nie te doen nie, maar die barmhartige Samaritaan wat hy is, het hy besluit om saam met die man te loop om seker te maak hy kom veilig by sy bestemming.

So sê die bekommerde Lettie Schutte oor haar seun, JP Janse van Rensburg (27), wat 02:00 Saterdagoggend laas gesien is na hy saam met ‘n “deurmekaar en bang” man tot by sy bestemming wou loop.

Sy vertel JP was saam met vriende by ’n kuierplek toe hulle kort voor hulle die kuierplek verlaat het, ’n “deurmekaar en bang” man in die straat gekry het. Sy sê JP, wat gereeld ander mense help, het besluit om saam met die man te loop om seker te maak dat hy veilig by sy bestemming uitkom.

“Sy eks-meisie het 02:00 die oggend nog ’n stemboodskap van JP ontvang waarin hy gesê het hy loop saam met die man en dat hy veilig is.”

Toe Schutte JP egter die volgende oggend probeer bel, het ’n Melvin die selfoon geantwoord en gesê dat hy die foon die vorige dag by die mall opgetel het. “Wat nie waar is nie, want JP het daardie oggend nog ’n stemboodskap gestuur.”

Schutte sê hulle het JP as vermis aangemeld en die polisie was ook al by die kuierplek om te kyk of hulle op videomateriaal kan sien wie die persoon is saam met wie JP daar weg is. “Ons het ook al by al die hospitale in die omgewing gekyk.”

Schutte sê ontsteld dat hulle binnekort by die lykshuise sal moet gaan kyk indien hulle JP nie by ’n hospitaal opspoor nie.

JP het ook twee dogtertjies van vier en vyf jaar oud en Schutte sê dis baie moeilik. “Want sy twee dogtertjies wil weet waar is Pappa.”

JP was van Vanderbijlpark na Sasolburg op pad.

Indien jy enigiets gewaar het of enigiets weet oor JP se verdwyning, kontak Schutte asseblief dadelik by 067 307 8898.

Die foto is geneem die aand wat JP verdwyn het.
Die foto is geneem die aand wat JP verdwyn het.