Ons gesels met ‘n jong, hoopvolle vrou wat haarself na skool in die dwelmwêreld saam met die Kaapse bendes en gevaarlike karakters bevind het, wat vandag vir ‘n pastoor studeer om ander te help.
Jy kan die hoop en opgewondenheid in Andrea de Jager (25) se stem hoor soos sy begin praat. Sy vertel sy het so hard gebid dat iemand haar storie in woorde kan omsit en sy ander mense kan aanraak met hoe sy bo uitgekom het.
Van ‘n “tikkop” op straat wat met bendes betrokke was en nie ‘n uitweg gesien het nie, tot iemand wat vandag ander na Jesus toe lei.
Andrea is in Kaapstad gebore is en het daar grootgeword. Sy het aan Hoërskool Bellville gematrikuleer. Sy vertel sy kom uit ‘n baie goeie huis uit. “Ek is baie streng grootgemaak. Ek mag nie sommer uitgegaan het of oorgeslaap het nie. My ouers was baie beskermend teenoor my.”
Vandag sê Andrea dis dié streng reëls toe sy grootgemaak is, wat veroorsaak het dat sy na skool “uitgehaak” het.
Sy het op haar matriekafskeid vir die eerste keer dwelms gebruik. “Dit was MDMA. Ek het uit my ouerhuis getrek en dit was twee maande, toe was ek op tik. Dit was asof ek niks gewoond was nie.”
Kort voor lank was die voorbeeldige Andrea aan die bendes in die Kaap blootgestel en het sy haarself in ‘n ander wêreld bevind.
Sy praat van haar werk wat sy in 2015 gekry het. “Ek was die hele tyd op dwelms, maar ek het gedink ek is nog oukei, omdat ek werk gehad het. Ek het gedink ek volg in my pa se voetspore, omdat hy ook ‘n belastingspraktisyn was.”
Andrea se pa is oorlede toe sy in gr. 6 was. Haar ma is intussen weer getroud en sy sê dit was moeilik om as kind die nuwe man in haar ma se lewe te aanvaar.
In dié tyd het Andrea tik en Mandrax gerook, en ook baie gedrink. “Niemand het geweet nie.”
Sy het op haar eie gaan bly en steeds gedink sy is “fine”. “Jy sê mos maar ek het nog my werk, ‘n woonstel, alles is oukei.”
Toe Andrea na ‘n rukkie met haar ma gaan praat en erken dat sy dwelms gebruik, het haar ma vir haar hulp aangebied. “My ma is iemand wat glo dat ons na haar toe moet kom en vra vir hulp. Want as jy nie hulp wil hê nie, gaan dit in elk geval nie help nie.”
Haar ma het aangebied om haar by ‘n rehabilitasiesentrum in te boek, maar Andrea het net drie dae uitgehou. “As iets vir my dodgy voel, dink ek dis ‘n lokval.”
So het sy aangehou dwelms gebruik, baie gekuier en saam met haar baas gedrink, vertel sy.
“Eendag loop ek in ‘n bendelid vas. Hy was die mooiste man met groen oë. Ek was dadelik verlief.”
Sy en dié bendelid was vir ongeveer ‘n jaar saam – ‘n jaar wat sy beskryf as ‘n jaar wat sy só “gebreinspoel” is. “Hulle brainwash jou so. Jy dink hulle is lief vir jou, en hulle gee meer om vir jou as jou eie familie.”

Sy noem vlugtig hoe sy in dié tyd in haar woonstel “gedaterape” is. “Maar ek onthou nie wat gebeur het nie. Dis soos vyf dae wat net uit my lewe gesteel is.
Een van Andrea se vele pogings om haar lewe “oor te begin” het in dié tyd plaasgevind. Sy vertel sy het op ‘n perdeplaas gaan bly. “Ek was vir so twee maande skoon en dit het goed gegaan, my ma-hulle het my weer vertrou en ek was weer lekker vet en gesond. Tot ek met ‘n nommer 27-bendelid begin gesels het.”
“Iemand het my daai tyd gewaarsku teen dié ou. Hulle het gesê hy is bekend daarvoor dat hy mense opkap en opsaag. Maar vir my was dit soos ‘n dwelm. Hoe gevaarliker hy was, hoe meer aangetrokke was ek tot hom.”
Andrea en die ou het vir ‘n rukkie op Facebook gesels tot hy gesê het hy wil haar graag ontmoet. “Ek het vir my ma gesê ‘n ou vriend kom haal my en dat ek nie sal terugval nie.”
Omdat Andrea skoon was, het hy vir haar ‘n boks wyn gekoop. “Hy het langs my gesit en rook. Maar daai een dag het toe twee dae, toe drie dae, toe vier dae geword. Ek het weer gerook.”
Sy vertel mense besef nie hoe ‘n uitspattige lewe bendelede lei nie. “Ons het elke liewe aand in die mooiste hotelle gebly,” vertel sy. “Ek mag nie vrae gevra het nie, maar ek het besef ons bly deur bedrog by al die fancy plekke.”
In dié tyd het Andrea een van die skrikwekkendste ervarings van haar lewe gehad. “Ons het vir ‘n ander bendelid in Blouberg gaan kuier en dié ou trap toe op my skoen – die skoen wat hy vir my gekoop het.”
“Hy freak toe uit en maak hom net daar voor my dood. Onthou, dis die ou teen wie mense my gewaarsku het. Die ou wat bekend is daarvoor dat hy mense opkap.”

Sy vertel hulle het hom by die badkamer ingesleep. “Ons moes die hele nag daar sit om seker te maak hy is dood. Hy het nog sulke gorrelgeluide gemaak. Die reuke en klanke van daai aand is iets wat ek nooit sal vergeet nie.”
“Tot die son opgekom het, het ek daar gesit en stres. Ek het gedink: ‘Wat is besig om te gebeur? Die ou is regtig gevaarlik. Waar is my ma? Nou is ek bang’.”
Sy sê hulle het die bendelid se liggaam net daar in die hotelkamer gelos en sy weet tot vandag nie wat het van hom geword nie.
Sy en haar ou is toe ‘n paar aande later deur die metropolisie afgetrek.
“Daar was ‘n vrou wat my deursoek het en ek het gedink hier is my kans. Ek het vir haar gesê ek is bang vir die man en dat hulle my na die naaste polisiestasie moes neem.”
“Hy het my gevra waarheen gaan ek en ek het vir hom gesê: ‘Ek is moeg. Hulle gaan my rehab toe vat.”
Toe sy by die Bellville-polisiestasie aankom, het sy besef dat die polisie lankal reeds na dié bendelid op soek was, dat sy as vermis aangemeld is en ook dat sy eintlik ontvoer was.
Andrea se lewe was daarna ‘n wipplank van dreigemente, oproepe, rehabilitasiesentrums en hofsake.
Die bendelid het haar en haar familie vanuit die tronk gedreig. Sy het weer probeer om haar lewe in die Kaap oor te begin. “Ek het ‘n werk by ‘n mall gekry en ek het maar so in die skadu geleef,” vertel sy. Maar “hulle is so slim”. Kort voor lank het daar twee mans met vuurwapens by haar werk opgedaag en gevra waar sy is.
Sy is toe na ‘n ou vriend, wat in Bloemfontein gewoon het, om vir die ander bendelid weg te kruip. “Ek het nêrens anders gehad om heen te gaan nie. En in daardie tyd in Bloemfontein het ek meer dwelms gedoen as ooit vantevore.”
Sy en die vriend van Bloemfontein het toe ook saam in ‘n hofsaak betrokke geraak na mense by ‘n huis aangerand is. Andrea vertel sy self was daardie aand geslaan.
“En toe slaap ek die eerste keer in my lewe van 5/6 jaar se dwelms en bendes, in ‘n sel.”
Na sy haar ma uit die tronk kon bel, het sy en die vriend borg van R2 000 elk gekry. Sy is terug na sy huis toe, maar sy vertel hy het haar aangerand en seerder gemaak as ooit vantevore. “Ek was moeg. Ek wou net huis toe gaan.”
Maar haar vriend wou dit nie toelaat nie. “Ek het vir hom gesê ek wou my ma bel. Hy het voor my gestaan terwyl ek my ma bel. Ek het vir haar gesê ek wil huis toe kom, maar omdat die hofsaak in Bloemfontein voorgekom het, moes ek in die omgewing bly. Ek kon ook nie regtig teruggaan Kaap toe nie, omdat die ou wat die moord gepleeg het, my nog daar gesoek het.”
Andrea vertel toe sy uiteindelik kon wegglip toe haar vriend by sy huis uit was, was sy op ‘n lang, uitgerekte “backpackers”-toer saam met ‘n vriendin wat haar kom oplaai het. “My ma het duisende rande spandeer dat ons elke aand ‘n plek gehad het om te bly.”
Andrea is later met ‘n bus terug na Kaapstad, waarvandaan sy weer na Bloemfontein moes reis om haar hofsaak by te woon. Later is sy Pretoria toe om daar haar lewe oor te begin.
Toe sy egter weer Bloemfontein toe is vir die hofsaak, het haar ma haar op pad terug na Pretoria gewaarsku mense met vuurwapens het na haar gesoek. Sy moes by ‘n busstop afklim.
“Dit was twee jaar wat ek gehardloop het. Ek het daar net teen ‘n muur gaan sit. Ek kon nie meer nie.”

Sy vertel sy het uiteindelik, na sy vir twee jaar gestry het teen dit wat haar ma en pastoor Rooies van School of Fire vir haar wou hê, ingestem om na ‘n rehabilitasiesentrum te gaan. “Ek het gesê ek sal net hierheen kom as ek mag rook,” vertel sy. “Ek het met vyf kartonne sigarette hier aangekom en die tweede dag, toe brand ek al vyf kartonne uit. Ek was so bang om in ‘n rehab toegesluit te word. Maar dis presies die teenoorgestelde hier. Ek wil hier bly, ek wil van hier af werk. God seën my so.”
Sy vertel sy het soveel karakters ontmoet in haar tyd op straat. “Die tipe mense wat langs my by ‘n busstop kom sit het. Die mense met wie ek my laaste sigarette of my laaste geld gedeel het.”
“En ek en my ma het altyd gespot en gesê ek gaan in Egipte eindig. En kyk waar is ek nou. Ek het nog R4 000 op my borgvorm nodig, dan is ek op pad na Etiopië. Dis van kleins af my droom om net asem te haal in ‘n ander land. En nou kan ek met ‘n smile sê dat ek op pad is om dit te doen. En ek het nou ‘n REDE.”
Andrea is vol opgewondenheid as sy vertel wat sy alles beplan. “Ek wil op ‘n toerbussie klim en my steps gaan retrace,” sê sy. “Ek wil na al die mense toe gaan wat my gehelp het, wat in my lewe was, om vir hulle te wys waar ek vandag is.”
Sy vertel by School of Fire is ‘n groot groep mense wat almal uit verskillende agtergronde kom. “Elkeen het sy eie storie, maar ons is een in God.”
“Ek wil dit my missie maak om by tronke in te stap en vir mense wat dink hulle het nie meer ‘n kans nie, vertel dat God hulle sal vergewe. Ek wil mense op straat aanraak met my storie.”
Sy vertel sy is skaam oor haar lyf wat vol tatoes is en dat dit dalk vir mense vreemd kan lyk dat ‘n pastoor met ‘n sonrokkie en vellies só baie tatoes kan hê, maar tog voel sy dis deel van haar storie.
Andrea, wat vandag die hoof en koördineerder van School of Fire se plaaslike uitreike is, sê sy sal nooit weer terugkyk nie.
“Ek spreek vandag die Woord van God.”





