Kinder Joy Surprise-sjokolade-eiers herroep weens moontlike salmonella

Deel hierdie storie / Share this story

Die sjokolodade-maatskappy, Ferrero, het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle sê hulle neem “voedselveiligheid uiters ernstig op” nadat ‘n herroeping uitgereik is vir Kinder Joy Surprise-sjokolade-eiers oor ‘n moontlike verband met ‘n salmonella-uitbraak.

Tot op hede hou 63 gevalle van ‘n salmonella-uitbraak met dié produkte verband, berig die BBC. Die gevalle sluit kinders van die Verenigde Koninkryk, Ierland, Frankryk, Duitsland en Swede in.

Die voedselprodusent het gesê hulle “vra opreg om verskoning” vir die produkte. Dit volg nadat voedselveiligheidshoofde in Ierland en die Verenigde Koninkryk ‘n dringende herroeping van Kinder Joy Surprise-sjokolade-eiers uitgereik het.

Die Kinder Joy Surprise-sjokolade met die koop-voordatum tussen 11 Julie en 7 Oktober 2022 is herroep. Dit geld egter net vir sekere sjokolades wat in België geproduseer is.

Die Voedselveiligheidsowerheid van Ierland het gesê daar is gevalle van voedselvergiftiging by kinders gediagnoseer wat verband hou met die sjokolade. Dit is nog nie bekend of enige van die produkte na Suid-Afrika uitgevoer is nie.