Vyfde vlaag in Mei verwag

Deel hierdie storie / Share this story

Die wêreld lewe al vir die afgelope twee jaar met die gevolge wat die Covid-19 pandemie bring, en nou word daar weer ‘n vyfde vlaag voorspel.

Volgens die epidemioloog, prof. Salim Abdool Karim, kan Suid-Afrikaners vroeg in Mei ‘n vyfde vlaag Covid-19-infeksies verwag.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering, het bevestig dat ‘n nasionale ramptoestand weer ingestel kan word indien Covid-19-gevalle drasties toeneem en hospitaalbeddens vol raak.

Die erns daarvan sal afhang van die verskyning van ‘n nuwe variant.

Alhoewel die Omikron BA.2-variant steeds Covid-19-gevalle oorsee oorheers, sal ‘n nuwe vlaag waarskynlik plaaslik deur ‘n nuwe variant gedryf word, wat ook ‘n afstammeling van Omikron kan wees.

‘n Nuwe Covid-19-variant van Omikron wat in die Verenigde Koninkryk opgespoor is, is tot tien keer meer aansteeklik as die oorspronklike variante.

Terwyl talle lande inperkingsmaatreëls ophef, het Shanghai in China die afgelope maand ‘n rekordgetal Covid-19-gevalle aangemeld, met verpligte Covid-19-toetse wat uitgevoer word. 87,9% van China se bevolking is egter reeds ingeënt.

Karim sê die oplewing van gevalle in China is nie onmiddellik kommerwekkend nie, aangesien dit gedryf word deur die Omikron-variant wat reeds ‘n hoogtepunt in Suid-Afrika bereik het.

Karim herinner Suid-Afrikaners daaraan dat ons steeds midde-in ‘n pandemie leef en as vorige tendense voortduur, is dit waarskynlik dat ons ‘n nuwe vlaag infeksies in die winter sal sien.

Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, het Dinsdagmiddag tydens ‘n media-inligtingsessie gesê sodra 70% van landsburgers teen die koronavirus ingeënt is, daar genoegsame beskerming sal wees sodat maatreëls, wat ingevolge die nasionale gesondheidswet ingestel sal word, nie meer nodig sal wees nie.

Volgens Our World in Data is slegs 30,3% van Suid-Afrika se bevolking reeds ingeënt, terwyl 58,7% van die wêreldbevolking reeds teen die koronavirus ingeënt is.