Ramptoestand kom tot ‘n einde

Deel hierdie storie / Share this story

Die ramptoestand eindig vanaand om 24:00. So het pres. Cyril Ramaphosa vanaand in sy toespraak gesê. Terwyl die meeste maatreëls wegval, bly ‘n paar vir ‘n tydperk van 30 dae van krag.

Ramaphosa sê die Covid-19-gevalle wat minder raak en die minder hospitaalbeddens wat deur Covid-19-pasiënte opgeneem word, het daartoe gelei dat die nasionale ramptoestand vanaand om 24:00 amptelik verby is.

Ramaphosa sê die publiek se kommentaar oor die maatreëls wat egter steeds in plek sal bly, word oorweeg.

Jy sal steeds binnenshuis jou masker moet dra. Maskers hoef nie in die buitelug gedra te word nie.

Beperkings sal steeds op die aantal mense by byeenkomste toegepas word. Lokale mag nie meer as 50% van die kapasiteit gevul word nie.

Maksimum 1 000 mense mag binnenshuise byeenkomste bywoon en maksimum 2 000 buitenshuise byeenkomste.

‘n Negatiewe Covid-19-toets nie ouer as 72 uur nie of ‘n inentingsertifikaat moet gewys kan word wanneer reisigers Suid-Afrika wil binnekom.

Die R350-toelaag bly.

Regulasies oor bestuurders- en motorlisensies bly.

Al die ander regulasies soos isolasie wanneer jy positief toets, regulasies oor openbare vervoer en beperkings op besoeke aan ouetehuise, val vanaand om 24:00 weg.