Jy sal dalk nou permanent by binnenshuise byeenkomste ‘n masker moet dra

Deel hierdie storie / Share this story

Duisende Suid-Afrikaners het reeds geregistreer om hulle vertoë teen die departement van gesondheid se voorgestelde regulasies te rig.

Die regering beplan om die ramptoestand te beëindig, maar steeds spesifieke reëls en regulasies in plek te hê.

Verskeie veldtogte is geloods vir bekommerde Suid-Afrikaners om kommentaar te lewer op dié voorgestelde regulasies.

Dr. Joe Phaahla, die minister van gesondheid, het voorgestelde die volgende wysigings aan sekere regulasies gepubliseer.

Hoewel hierdie wysigings daarop gemik is om die nasionale ramptoestand te beëindig, sal dit verskeie van die beleide en protokolle wat ingevolge die ramptoestand uitgevaardig is langdurig in werking stel.

Suid-Afrikaners voel verskeie van dié regulasies is duidelike skendings van hul basiese regte:

Daar sal verpligte mediese ondersoeke, afsondering en behandeling wees vir mense met aanmeldbare mediese toestande.

Enigeen wat Suid-Afrika tydens ’n pandemie binnekom of verlaat en wat nie ’n inentingsertifikaat het nie, moet ’n negatiewe polimerase-kettingreaksie- (PCR-)toetsuitslag kan toon wat nie ouer as 72 uur is nie.

Beperkings op nagwake en byeenkomste ná begrafnisse sal blywend wees, byvoorbeeld begrafnisse wat tot 100 mense beperk is.

Binne- en buitenshuise byeenkomste sal beperk word tot 50% van die lokaal se kapasiteit wanneer inentingsertifikate verpligtend is vir toegang. Vir byeenkomste waarvoor inentingsertifikate nie verpligtend is nie, sal daar ’n beperking van 1 000 mense vir binnenshuise en 2 000 mense vir buitenshuise byeenkomste geld.

Fisiese afstand sal ’n permanente regulasie word.

Gesigsmaskers sal verpligtend word vir binnenshuise byeenkomste, om openbare plekke binne te gaan en vir openbare vervoer.

Handsaniteertoestelle sal permanent by ingange tot alle openbare plekke opgerig moet word.

Die nuwe regulasies sal ook die oorweging van ander beperkinge tussen verskillende staatsdepartemente toelaat, wat onder meer met aandklokreëls, inperkings, ekonomiese aktiwiteite en die verkoop van alkohol verband hou.