Caitlene Thompson (18) van Kimberley is nog net 6 maande deel van die Vogue Models agentskap maar na slegs haar tweede kompetisie, is sy alreeds as eerste prinses gekroon by die Nasionale Supermodel RSA 2022 kompetisie. Dié kroning het op die 5de Maart plaasgevind.
Thompson sê sy het dit glad nie verwag nie. “Ek was baie gelukkig, en eerlikwaar geskok, veral omdat dit nou eers my tweede kompetisie was. Ek was regtig baie bly en oor die algemeen baie dankbaar.”
Sy moes baie voorberei en ekstra pligte opneem. “Ek moes 10 geskenkies gaan koop het vir die kompetisie, ek moes my loop roetine baie geoefen het en ek moes seker maak my uitrusting was reg vir ‘high fashion’. Die oggend van die kompetisie het ek baie vroeg opgestaan om net seker te maak alles is gereed.”
Vir Thompson is die lekkerste deel van die model agentskap dat hulle almal soos een groot familie is. “Ons is altyd daar vir mekaar maak nie saak wat nie.”
Sy sê haar groot rolmodelle en inspirasie na wie sy opkyk, is die wêreldbekende supermodelle Kendall Jenner en Bella Hadid. Sy self wil ook ‘n rolmodel wees en probeer altyd die beste weergawe van haarself te wees, al is dit partykeer moeilik.
Caitlene het ook baie geleer in hierdie tyd. “Ek het geleer dat alles met tyd kom en dat dit ook goed is om te verloor. As jy elke keer wen dan waardeer jy dit nie maar verwag dit. Soos wat my afrigter, Jean-Mari, altyd vir ons sê ‘Rome was not build in a day’ en dit het my motto geraak.”
Sy het ‘n fantastiese ondersteuningstelsel in haar ouers, Iain en Renet Thompson. “Dan ook my afrigter Jean-Mari, my kêrel Ruan Dippenaar sowel as sy ma, Jolene Dippenaar, Erin Pretorius. Laaste maar nie die minste nie my beste vriendin Lizelle Meyburgh.”
Thompson sien haarself modelwerk doen in die toekoms en sy sal graag ‘n lewe daarvan wil maak. “My grootste droom is om modelwerk my beroep te maak en dat ek ‘n sukses van dit sal kan maak. Ek wil eendag op ‘n baie bekende ‘brand’ se tydskrif voorblad wees. Maar sy wil ook na skool gaan swot om ‘n onderwyser te word.



