Nuwe reëls om Suid-Afrika se ramptoestand te vervang – wat jy moet weet

Deel hierdie storie / Share this story

Nuwe regulasies is deur die minister van COGTA, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, in die Staatskoerant gepubliseer om die nasionale ramptoestand op te hef.

Openbare kommentaar op die regulasies is oop tot Vrydag (1 April) om 17:00.

Selfs al word die ramptoestand beëindig, sal daar steeds ‘n tydperk van 30 dae wees waarin sommige reëls sal geld.

Verpligte protokolle wanneer in ‘n openbare plek:

• Die dra van ‘n gesigmasker is verpligtend vir elke persoon wanneer hulle in ‘n binnenshuise openbare plek is, uitgesluit ‘n kind onder die ouderdom van ses jaar.

• Geen persoon sal toegelaat word om enige diens op enige vorm van openbare vervoer te gebruik, te bedryf of uit te voer sonder ‘n masker nie.

• Geen persoon sal toegelaat word om ‘n gebou, plek of perseel, insluitend regeringsgeboue, plekke of persele, wat deur die publiek gebruik word om goedere of dienste te bekom, binne te gaan of te wees in ‘n gebou, plek of perseel, indien hy of sy nie ‘n gesigmasker dra nie.

• Alle persone in ‘n oop openbare ruimte hoef nie ‘n gesigmasker te dra nie, maar moet ‘n afstand van minstens een meter van ‘n ander persoon handhaaf.

• Die skoolomgewing is uitgesluit van die vereiste om ‘n afstand van minstens een meter vanaf ‘n ander persoon te handhaaf.

• ‘n Werkgewer mag nie enige werknemer toelaat om enige pligte uit te voer of die diensperseel te betree indien die werknemer nie ‘n gesigsmasker dra terwyl hy of haar pligte uitvoer nie.

Byeenkomste: Alle byeenkomste word toegelaat teen 50% van die lokaalkapasiteit:

• Op voorwaarde dat persone ten volle ingeënt is en in besit is van ‘n geldige inentingsertifikaat; of

• Ongeënt maar in besit van ‘n geldige sertifikaat van ‘n negatiewe Covid-19-toets wat nie meer as 72 uur voor die datum van die byeenkoms verkry is nie,

Alternatiewelik word byeenkomste toegelaat vir die ongeëntes en diegene sonder toetse, maar beperk tot 1 000 persone of minder vir binnenshuise lokale en 2 000 persone of minder vir buiteluglokale.

Indien die lokaal te klein is om die voorgeskrewe aantal persone te hou wat ‘n afstand van ten minste een meter van mekaar handhaaf, mag nie meer as 50% van die kapasiteit van die lokaal gebruik word nie, onderhewig aan streng nakoming van alle gesondheidsprotokolle en maatreëls vir sosiale distansiëring.

Byeenkomste by ‘n werkplek vir werkdoeleindes word toegelaat, onderhewig aan streng nakoming van alle gesondheidsprotokolle en maatskaplike distansiëringsmaatreëls.

Hotelle, lodges, bed-en-ontbytplekke, tyddeelgeriewe, oorde en gastehuise word die volle kapasiteit van die beskikbare kamers vir akkommodasie toegelaat, met kliënte wat gesigmaskers dra en ‘n afstand van minstens een meter van mekaar af handhaaf wanneer hulle in gemeenskaplike ruimtes is.”

Gedeeltelike heropening van grense:

Die 21 landgrense wat ten volle in werking is, sal so bly en die 32 landgrense wat gesluit is, sal gesluit bly.

Die Minister van Binnelandse Sake kan vanaf die inwerkingtredingsdatum van hierdie wysiging van die regulasies voorskrifte uitreik oor die opening en sluiting van enige verdere hawens.

Reis na en van die Republiek vanaf buurlande word toegelaat, mits reisigers:

• Ten volle ingeënt is by aankoms by die landgrens en ‘n geldige inentingsertifikaat toon; en

• Ongeëntes moet by aankoms by die landgrens ‘n geldige sertifikaat van ‘n negatiewe Covid-19-toets, erken deur die Wêreldgesondheidsorganisasie, verskaf, wat nie meer as 72 uur voor die reisdatum verkry is nie.

Internasionale lugreise is beperk tot die volgende

• OR Tambo- internasionale lughawe;

• King Shaka- internasionale lughawe;

• Kaapstad- internasionale lughawe;

• Lanseria- internasionale lughawe; en

• Kruger Mpumalanga- internasionale lughawe.

In die geval van die reisiger se versuim om ‘n sertifikaat as bewys van ‘n negatiewe Covid-19-toets in te dien, sal daar van die reisiger verwag word om ‘n antigeentoets by aankoms op sy of haar eie koste te doen en in die geval van ‘n reisiger wat positief toets vir Covid -19, sal daar van hom of sy verwag word om hom of haarself op sy of haar eie koste, vir ‘n tydperk van 10 dae, te isoleer.

Uitgaande reisigers van Suid-Afrika moet aan die vereistes van die land van bestemming voldoen.

Oorgangsbepalings:

Die gespesifiseerde regulasies en voorskrifte sal nie ophou om van krag te wees bloot omdat die nasionale ramptoestand tot ‘n einde kom nie.

In plaas daarvan sal hulle steeds geld

en van krag wees tot 30 dae nadat die nasionale ramptoestand beëindig is, waarna die betrokke regulasies en voorskrifte outomaties sal verval.

Bronne: Times LIVE, Business Tech

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Dlamini-Zuma het ‘n motor van R800k gekoop net voor eerste inperking