Josh Rossi het onlangs ses kinders wat met beperkinge moet saamleef of siek is, in “superhelde” verander en neem foto’s om dié goeie herinneringe vir die kinders vas te vang. En alhoewel sommige van die kinders se siektes of beperkinge dalk as “swakpunte” gesien kan word, beskryf hy dit as sterkpunte.
Rossi sê hy het die idee gekry ná hy vir sy 3-jarige dogtertjie ‘n Wonder Woman-kostuum geskep het vir haar verjaardag-fotosessie.
Hy vertel aan Scary Mommy dat baie ouers hom gekontak het en gesê het hulle kinders het kanker of ander siektes.
“Toe het ek besluit ek moet die ‘regte’ superhelde daarbuite gaan soek en ‘n fotosessie doen.”
Julie Whitley was die kostuumontwerper vir die sessie en het vir byna drie dae aan die kinders se kostuums gewerk.
Die kinders het as Batman, Aquaman, Wonder Woman, Superman, Cyborg en Flash vir die foto’s poseer. – Scary Mommy





