Die SAMRK het die Hoërskool Brackenfell van rassisme-bewerings verontskuldig nadat ‘n groep matriekleerlinge in 2020 ‘n private afskeid gehou het wat glo swart leerlinge uitgesluit het.
Die SAMRK het Donderdag aangekondig dat hulle ondersoek na die rassisme-bewerings rondom die afskeid afgehandel is.
Die kommissie het bevind dat die skool nie ’n “alleen-wit matriekbal” aangebied het nie en dus nie – hetsy direk of indirek, regverdig of onregverdig – teen gr. 12-leerlinge op grond van ras gediskrimineer het nie.
Die SAMRK het bevind dat van die skool se amptenare van die geleentheid geweet het, aangesien besonderhede van die matriekbal deur ouers, voogde en leerlinge van die skool op WhatsApp, Facebook en mondelings gedeel is.
Die kommissie het ook bevind dat vier onderwysers in hul private hoedanigheid genooi is, maar die getuienis voorgelê het Hoërskool Brackenfell vrygespreek van die beplanning, befondsing, advertering of aanbieding van die geleentheid.
“Die kommissie het verder bevind dat die organiseerders van die geleentheid ook nie direk of indirek teen leerders op grond van ras gediskrimineer het nie,” het die SAMRK in ‘n verklaring gesê.
Die SAMRK het alle leerlinge, ouers en voogde sowel as die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) bedank vir hul samewerking tydens hulle ondersoeke.
Bronne: The Citizen, MSN
Volg FiND iT hier.



