‘n Vrou van Londen se hand lyk nou soos ‘n haai se kop uit ‘n tekenprent ná dokters haar hand in haar maag toegewerk het.
‘n Video waarin sy haar storie op TikTok deel, is al meer as 75 miljoen keer gekyk.
Die 34-jarige Sadie Kemp sê sy het nie besef haar hand gaan soos ‘n haai se kop lyk tot ná dit uit haar maag verwyder is nie, berig The Mirror.
Kemp is op Kersdag verlede jaar in die hospitaal opgeneem na sy ‘n skerp pyn in haar niere ervaar het. Sy is met nierstene gediagnoseer en is na die hospitaal se noodafdeling oorgeplaas om dit te verwyder.
Die ma van twee se ledemate is met sepsis geïnfekteer en om haar lewe te red, moes paramedici haar vir 11 dae in ‘n mediese koma sit en al die vingers van haar linkerhand amputeer.
Om bloedsirkulasie na haar hand te bevorder, moes dokters haar hand in ‘n pouch in haar maag vaswerk.
“Ek het die eerste keer daarna gekyk en dit wat oor was van my duim, beweeg. Ek het gedink: ‘Sjoe, dit lyk soos ‘n haai.”
Sy het egter besluit dat haar nuwe hand haar nie sal onderkry nie en het mense met haar hand se bewegings op TikTok vermaak. In een video wat meer as vier miljoen keer gekyk is, beweeg sy haar hand saam met die bekende liedjie Baby Shark.
Peterborough Today berig Kemp se ander hand en beide haar bene sal onder haar knieë geamputeer moet word.
Stephanie King, ‘n vriendin van Kemp, het ook ‘n GoFundMe-blad vir Kemp begin om haar en haar familie te ondersteun. Dinsdagoggend het bydraers al meer as $38 000 ingesamel.
Kemp sê sy wil bewusmaking van die gevare van sepsis bevorder en omdat sy reeds so baie weens sepsis moes verloor, wil sy nie hê dit moet met ander mense gebeur nie. – Peterborough Today, The Mirror, NY Post



