Van ‘n nyaope-verslaafde wat sy besittings verkoop het en vir diefstal en ander misdade in hegtenis geneem is, tot iemand wat vandag met trots kan sê dat hy uit die dwelmhel gered is en sy graad in kuns voltooi het.
Die 28-jarige Reaobaka Chabalala van Rustenburg wil sy verhaal vertel en op dié manier ander verslaafdes en die jeug van vandag motiveer om so ver moontlik weg te bly van dwelms.
Chabalala het in 2012 sy matriekjaar aan die Mankuroane Technical and Commercial High School in Taung voltooi.
Tydens sy hoërskoolloopbaan vertel Chabalala is hy in graad 10 aan die ‘gangster’-lewensstyl blootgestel en sonder dat hy besef het watter rippel-effek dié keuse in sy lewe wou hê, het hy besluit om dwelms te gebruik om by dié groep in te pas.
“Aan die begin was die ‘tydelike hoog’ van nyaope baie pret,” vertel hy. “Die gevoel is onbeskryflik. Ek het dit eers net een of twee keer saam met vriende gebruik, maar na ‘n week of twee het ek onttrekkingsimptome begin ervaar. Op straat noem hulle dit ‘down’ of ‘alostro’.”
Hy sê wanneer jy dié “down” ervaar, jy ‘n vinnige “regmakertjie” nodig het om die pyn weg te vat.
“Ek het besef ek is verslaaf toe ek baie afwesig was by die skool en my besittings begin verkoop het. Ek sou omtrent vyf pakkies nyaope per dag gebruik en hoe meer ek gebruik het, hoe meer wou ek hê.”
Chabalala beskryf nyaope as ‘n mengsel tussen heroïen, fyngedrukte AVR, rotgif en ander middels wat gebruik word om dit sterker te maak.
Hy vertel sy verslawing was in sy matriekjaar die ergste en hy is tydens sy rekordeksamen in hegtenis geneem vir diefstal. Hy sê ‘n saak is gelukkig nie toe teen hom geopen nie.
“Ek het weens my verslawing nié na skool ingeskryf vir universiteit of kollege nie, maar vir ‘n graad in verslawing.”
Hy vertel hoe hy ná skool, veral toe hy in 2015 en 2016 na Rustenburg verhuis het, dieper in die dwelmhel geval het. Hy het op straat geslaap en sy familie het hom selfs as vermis aangemeld.
“Ek het op straat geleef en oorleef deur te roof, te bedel en vullis bymekaar te maak.”
Hy sê in 2016, toe mense om hom dood is en komplikasies ervaar het weens die inspuit van die dwelm, het hy besluit om op te hou. Hy was na ‘n Christelike rehabilitasiesentrum toe en het só sy verslawing oorkom.
In 2018 het Chabalala besluit om verder te gaan studeer, maar hy het nie plek gekry nie. In 2019 het hy plek gekry en vir sy kunsgraad begin studeer. Hy het op 14 Maart vanjaar sy kwalifikasie voltooi.
Sy plan vorentoe is om verder te studeer, ‘n vaste werk te kry en ook ‘n boek oor sy lewe te skryf.
“As ek nou terugdink, het ek nie gedink dat ek ooit vandag hier sou wees nie. Dis deur God se genade, ondersteuning van familie, vreemdelinge en lede van die gemeenskap dat ek vandag hier is.”
Sy raad aan jongmense is dat dwelms slegs ‘n tydelike plesier is, maar dat dit oor die langtermyn baie skade in mens se lewe veroorsaak. “‘n Skoon lewe sonder dwelms is vorentoe, maar een met dwelms is net agteruit. Ek doen ‘n dringende beroep op die jeug om weg te bly van dwelms af en diegene wat dit oorweeg, hou nou op. Dit hou geen lewe in nie, slegs dood.”
Volg FiND iT hier op Facebook.
Lees ook: Verdagtes vas na gesteelde motor in ongeluk betrokke is



