‘n Seun (14) het vanmiddag na rugbyoefening by Boys High in Kimberley in die skool se swembad verdrink.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement van onderwys in die Noord-Kaap, sê die departement is geskok en hartseer oor die seun se dood.
Die seun is familie van die skool se rugbyafrigter.
“Die voorval het net na rugbyoefening gebeur. Leerlinge het verby die swembad geloop op pad om rugbytoerusting te gaan bêre. Die seuns het gespeel en mekaar langs die swembad gestamp toe twee van die kinders in die swembad geval het.”
Van der Merwe sê nooddienste is dadelik na die skool ontbied en een van die leerlinge is op die toneel dood verklaar.
Hy sê die seun wat oorlede is, is nie ‘n leerling by dié skool nie.
Van der Merwe sê die departement sal berading vir diegene geraak, aanbied.



