Oekraïense dogtertjie wat in bomskuiling sing veilig in Poland

Deel hierdie storie / Share this story

Verlede week het ‘n virale video van ‘n klein Oekraïense meisie wat Let It Go in ‘n bomskuiling sing, die harte van baie geraak.

Die 7-jarige Amelia Anisovych was in ‘n kelder vol verskrikte Oekraïners wat hul huise verlaat het uit vrees vir die bomme en missielaanvalle van Rusland.

Terwyl sy weggekruip het, het die dogtertjie die aandag van die mense in die skuiling getrek toe sy begin sing het.

Sy het die liedjie Let It Go uit die 2013 Disney-fliek Frozen gesing.

BBC News het ‘n onderhoud gevoer met die Oekraïense meisie wat saam met haar broer, Misha, en haar ouma veilig in Pole aangekom het.

Die onderhoud is op BBC News se YouTube-kanaal geplaas en wys ‘n vrolike Amelia wat steeds elke kans wat sy kry gebruik om te sing.

Terwyl Amelia, haar broer en ouma uit die Oekraïne gevlug het, berig Metro dat haar ouers nie by hulle aangesluit het nie.

”Dit is oral in die Oekraïne gevaarlik. Alle Oekraïners baklei nou, dit is ons werk,” het die publikasie Amelia se ma, Lilia Anisovych, aangehaal.

Die trotse ma het aan die publikasie gesê dat haar dogter “gesing het as die stem van al die kinders van die Oekraïne”.

Sy het ook gesê dat hulle hoop om in die komende dae by hul kinders aan te sluit.

Bronne: MSN, BBC, Boston

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Juffrou gehospitaliseer nadat vyfjarige haar in ‘afkoelkamer’ slaan