Die polisie is besig met ‘n ondersoek na ‘n Vrystaatse leerder oor die verkoop van ‘giftige’ koeke. Die polisie het ‘n gr. 10-leerder van die Sekondêre Skool Ntemoseng in die Vrystaat ondervra ná die verkoop van koeke aan mede-leerlinge. Na bewering kan die koeke glo “giftig” wees.
Leerders wat vroegoggend daarvan gekoop en geëet het, is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal, terwyl ander na mediese hulp herstel het. Hulle het hulself begin krap, terwyl sommige hoofpyn ervaar het en ander hiperaktief was.
“Sowat 17 leerders is by die hospitaal behandel en 12 het ten volle herstel,” het Tate Makgoe, die LUR vir die Vrystaatse Onderwys, Donderdag gesê. Die LUR het gesê die leerder wat die koeke verkoop het, het dit teenstrydig met die skoolgedragskode gedoen, en is die skoolterrein verbied.
“Dit is duidelik dat ouer mense ons kinders misbruik om hul onheilspellende doelwitte te bereik. As belanghebbendes moet ons dit gesamentlik en individueel op die sterkste moontlike manier veroordeel,” het Makgoe gesê. Die LUR het die departement van gesondheid bedank vir sy vinnige reaksie op die situasie.



