‘n Ma het gesterf aan ‘n “katastrofiese” bloeding op die brein wat veroorsaak is deur ‘n seldsame newe-effek van die Covid-19-entstof, is die gevolgtrekking waartoe ‘n lykskouer gekom het.
Kim Lockwood (34) het agt dae ná haar AstraZeneca-inspuiting in Maart 2021 oor ‘n verskriklike hoofpyn gekla.
Haar toestand het vinnig versleg en sy is 17 uur nadat sy in die Rotherham-hospitaal in Engeland opgeneem is, dood verklaar.
Nicola Mundy, lykskouer in Suid-Yorkshire, sê Lockwood was “uiters ongelukkig” en die oorsaak van haar dood is aangeteken as entstof-geïnduseerde immuun trombotiese trombositopenie (VITT). Dit beteken ‘n lae bloedplaatjietelling.
Min was bekend oor die verband tussen die Covid-19-entstof en VITT ten tyde van Lockwood se dood, het die lykskouer gesê, maar mediese vooruitgang het beteken dat die toestand beter erken is sedert die aanvanklike entstof-ontplooiing.
Volgens regeringsyfers is die tipe reaksie wat Lockwood ervaar het, uiters skaars. Daar is 438 aangemelde gevalle en 78 sterftes na ‘n geraamde 24,9 miljoen eerste dosisse en 24,2 miljoen tweede dosisse van die AstraZeneca-entstof toegedien is.
Nadat Lockwood by die hospitaal was, het sy die volgende oggend teruggekeer met uitputtende hoofpyne, versteurde visie en braking. Sy kon teen die middag nie in volsinne praat nie.
Teen 02:00 het die ma van twee nie gereageer nie en haar familie is gebel om totsiens te kom sê.
Volgens Mundy moes ‘n MRI-skandering vroeër gereël gewees het, maar selfs dit, gekombineer met ander prosedures soos ‘n bloedplaatjie-oortapping en lumbale punksie, sou Lockwood nie kon red nie weens die massiewe, “skielike en katastrofiese” bloeding op haar brein.
Die geregtelike doodsondersoek het ook gehoor dat Lockwood in 2016 met idiopatiese intrakraniale hipertensie (IIH) gediagnoseer is, en sy het aanvanklik aanvaar dat dit die oorsaak van haar hoofpyn was.
“Die intense druk in die kop wat veroorsaak word deur ‘n opbou van vloeistof agter die oog, was nie die oorsaak van haar dood nie. Lockwood se pyn is nie behoorlik bestuur nie en daar moes na die familie geluister gewees het,” sê Mundy.
Lockwood word deur familie en vriende beskryf as “vriendelik, liefdevol en altyd die eerste en laaste op die dansvloer by partytjies”.
Lockwood was ook ‘n oorgaanskenker, ‘n gebaar wat “getoon het watter soort mens Kim is,” sê Mundy.
Mev. Lockwood se familie het ná die verhoor gesê sy is “in angs” dood en hulle het kommer uitgespreek oor haar behandeling. Hulle het gesê hulle beplan om ‘n eis vir mediese nalatigheid teen die hospitaaltrust in te dien.




